Sport hoogtepunte, 27-28 September 2014
Is jy passievol oor sport? Lees verder om te sien wat die naweek se hoogtepunte gaan wees.

Die Castle Rugby Kampioenskap kom hierdie naweek by ’n enorme belangrike fase en die uitslae van die twee wedstryde wat Saterdag en Sondagoggend (SA tyd) gespeel word, sal ’n reuse invloed op die finale stand van sake hê.
Rugby
Curriebeker: In die Curriebekerreeks bly daar vir al die spanne drie uiters belangrike wedstryde oor. Weens die toets wat Saterdagmiddag in Kaapstad gespeel word, is twee van die A-afdeling se wedstryde reeds Vrydagaand afgehandel.
Die Blou Bulle sou alles in hul vermoë moes doen om die Cheetahs in Bloemfontein te klop, aangesien hulle eenvoudig geen verdere nederlae kan bekostig as hulle nog ’n kans wil hê om vir die uitspeelfase te kwalifiseer nie.
In Nelspruit sou die Pumas ook gisteraand om oorlewing geveg het teen die leiers op die puntelys, die WP. Die WP sou op hulle beurt volpunte teen die Laevelders gejag het, om hul voorsprong op die puntelys te verstewig.
Saterdagmiddag moet die Leeus die moeilike taak aanpak om Griekwas op hul harde veld in Kimberley te probeer klop om hul hoop op ’n tuis halfeindrondte lewend te hou. In Durban sal die Sharks ook Saterdagmiddag hul posisie probeer verbeter deur ’n goeie oorwinning te probeer kry teen die agterosse en politieke begunstigdes, die OP Kings.
Toetsrugby: Die groot rugby van die naweek skop Saterdagmiddag om 17:05 op Nuweland in Kaapstad af, wanneer die Springbokke en Australië mekaar in die voorlaaste rondte van die Viernasiesreeks (Rugby Kampioenskapsreeks) pak.
Die Springbokke sal geen keuse hê as om ’n groot oorwinning te jaag nie. Hulle is ver agter die All Blacks op die puntelys wat punteverskil betref en die enigste realistiese manier waarop hulle nog die beker kan wen is as hulle dié punteverskil drasties kan verklein en die Argentyne kan die All Blacks verhoed om vier drieë te druk.
Daar is natuurlik ook die teoreties moontlikheid dat die Poemas die All Blacks kan klop. In daardie geval sal die partytjie in Suid-Afrika waarskynlik deurnag aanhou, want die wedstryd skop eers ná middernag (SA tyd) af.
Padwedlope
Saterdagoggend kom die bekende National Bussiness Challenge Relay marathon weer in Rietondale Park in die Moot van Pretoria aan die beurt.
Dié wedloop bestaan uit ’n standaard marathon van 42.2km of ’n 21.1 km halfmarathon, maar die verskil is dat besighede spanne kan inskryf waar die atlete mekaar aflos. Die wedloop word deur die Magnolia klub aangebied en albei die afdelings spring om 06:00 weg.
Krieket
Die Kampioeneliga krieketreeks se ligafase is nou in volle swang en beide die Suid-Afrikaanse spanne is die naweek en vroeg volgende week in aksie.
Die Cape Cobras speel Sondag teen die Kings XI Punjab, terwyl die Dolphins Maandagmiddag teen die Kolkata Knight Riders te staan sal kom. Die twee plaaslike spanne sukkel tans erg en albei het dringend ’n oorwinning nodig om uit die laaste plek op die onderskeie afdelings waarin hulle speel se puntelyste weg te kom.
Intussen het die plaaslike krieketseisoen hierdie week amptelik met die eerste wedstryde in die Sunfoil vierdag reeks begin. Die aksie in die eerste wedstryde sal nog tot Sondag duur en Pretorianers se aandag sal veral by die Wanderers wees, waar die Titans se eerste teenstander die Highveld Lions is.
Die Titans was Vrydag reeds in die moeilikheid en dit sal interessant wees om te sien of hulle die reserwekrag het om dié eerste wedstryd van die seisoen te red.
Jukskei
Gauteng-Noord Junior Jukskei bied Saterdagoggend weer hul jaarlikse interprovinsiale toernooi vir juniors spelers in Pretoria aan. Dié toernooi, wat ook bekendstaan as die jaarlikse Bondedag, word aangebied by Cooper Park in 18de laan, Rietfontein. Dié toernooi is een van die grootste junior jukskeibyeenkomste in Suid-Afrika.
Netbal
Die Varsitybeker Netbaltoernooi is ook in volle swang en Tukkies is weer besig om Pretorianers trots te maak met hul vertonings. Hulle het tot dusver al vier hul wedstryde gewen en hulle pryk bo-aan die puntelys.
Maandagaand speel Tukkies se meisies hul eerste tuiswedstryd in die Rembrandt-saal op die Tuks se LC de Villiers sportkampus. Hulle speel om 19:00 teen die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Vir meer sportnuus, ‘like’ Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.
