
Die plaaslike rugbyseisoen is vir eers verby en dis weer tyd vir krieket in die sonskynweer, terwyl ons vanaf volgende naweek nog vir oulaas die Bokke se laaste paar wedstryde sal volg op hul Europese toer.
Rugby
Hoewel geen Suid-Afrikaanse spanne hierdie naweek op die rugbyveld in aksie sal wees nie, sal daar tog ’n hele paar plaaslike sterre in die geledere van die Barbarians se span wees wat op Twickenham in Londen teen Australië gaan speel.
Die wedstryd vind Saterdagmiddag plaas en Suid-Afrikaners soos Matt Stevens (Sharks) en Juan de Jongh (Stormers) sal in die beginspan uitdraf, terwyl Thomas Du Toit (Sharks), Lourens Adriaanse (Sharks), Heinrich Brussow (Cheetahs), Sarel Pretorius (Cheetahs) en Marnitz Boshoff (Lions) op die bank sal sit.
Krieket
Terwyl die tweedebeste provinsiale spanne in Suid-Afrika (die sogenaamde amateur provinsiale spanne) hierdie naweek betrokke sal wees by verskeie wedstryde in die Sunfoil driedag-reeks, begin die RamSlam T20 reeks ook Sondag met ’n paar wedstryde. Om die begin van die reeks te vier sal vier top spanne op dieselfde dag op die Wanderers in Johannesburg in aksie wees. Die Titans en die Cape Cobras se wedstryd sal om 14:00 begin, terwyl die Highveld Lions en die Dolphins daarna om 18:00 teen mekaar sal speel.
Die Proteas se toer ‘Doer Onder’ skuif hierdie komende week na Australië en Woensdag vind die eerste T20 internasionale wedstryd tussen die twee lande plaas. Dit word op die Adelaide Oval gespeel en die aksie sal om 10:30 (SA tyd) begin.
Motorfietswedrenne
Geskiedenis word hierdie naweek gemaak wanneer die Monster Energy Supercross Africa motorfietswedren op ’n getransformeerde Loftus Versfeld sal plaasvind. Die stadion word omskep in ’n Supercross baan, wat beteken dat 3000 ton grond en gietvorms gebruik is om dié beroemde rugbyveld gereed te kry vir die wedren.
Die aksie sal om 15:00 begin en die oorhandiging van trofee sal om 20:30 plaasvind. Tussen die twee tye sal die stof behoorlik opgeskop word op Loftus met verskeie wedrenne, waarin van die wêreld se beste “Supercross”-ryers in aksie sal wees. Kaartjies is nog beskikbaar by ticketpro en by die hekke.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Like us on Facebook or follow us on Twitter.
