Jong Pretorianer slaan ses sesse in ’n ry
Sommige sportsoorte word verbind met prestasies wat vir die gewone deelnemer grens aan die onmoontlike, soos gholf se volmaakte gelukhou, ’n volmaakte tien-uit-tien in gimnastiek, ’n tyd van onder tien sekondes in die 100m in atletiek of ’n marathon in minder as 02:05 . Die ekwivalent hiervan in krieket is sekerlik daardie magiese ses sesse …

Sommige sportsoorte word verbind met prestasies wat vir die gewone deelnemer grens aan die onmoontlike, soos gholf se volmaakte gelukhou, ’n volmaakte tien-uit-tien in gimnastiek, ’n tyd van onder tien sekondes in die 100m in atletiek of ’n marathon in minder as 02:05 . Die ekwivalent hiervan in krieket is sekerlik daardie magiese ses sesse in een kolfbeurt. Die 19-jarige Danie Rossouw van die Sport School of Excellence se Krieket Instituut het verlede week sy naam bygevoeg by die klein groepie krieketspelers wat kan spog dat hulle dié prestasie in ’n amptelike wedstryd kon regkry. Rossouw speel klubkrieket vir die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) en hy het deelgeneem aan die Northerns Krieket-unie en Global Softec se ses-aan-’n-kant toernooi, wat die afgelope naweek beslis is. Ander klubs wat aan hierdie toernooi deelgeneem het, was die universiteite van Johannesburg (UJ) en die Witwatersrand (Wits), die Universiteit van Pretoria (Tukkies) en klubs soos CBC Old Boys, Pretoria High School Old Boys (PHSOB) en Irene Village. TUT het in die finaal van die toernooi teen PHSOB gespeel. Rossouw het die beurt ge-open en met die eerste 6 balle van die beurt losgetrek en 36 lopies gemoker deur ses sesse in ’n ry te slaan. Met hierdie prestasie het Rossouw aandag op homself gevestig wat hy eintlik lankal moes kry en die sielkundige hupstoot kan beteken dat hy nie meer lank deur die professionele krieketgeledere geïgnoreer kan word nie. Rossouw se krieketprestasies het as skoolseun aan die Hoërskool Waterkloof reeds begin, waar hy verskeie toekennings vir sy uitstaande spel gekry het. Hy het sedert graad 10 drie jaar lank vir die skool se eerstespan gespeel en in matriek is hy aangewys as Speler van die Jaar én Veelsydige Speler van die Jaar. Hy was in matriek ook Waterkloof se eerstespan kaptein.
Hy het reeds op o.17 vlak vir Northerns provinsiale skolekrieket gespeel en verlede jaar het hy by die o.19 Coca Cola-week een van net vier honderdtalle op dié toernooi geslaan. Onthou dus die naam van Danie Rossouw, want van dié jong kolwer en paaltjiewagter gaan ons beslis nog baie hoor. Sover bekend kon slegs vier internasionale spelers dié prestasie nog in hul loopbane behaal. Die eerste was die Wes Indiër, sir. Garfield Sobers. Dan was daar ook twee Indiërs, Ravi Shastri en Yuvraj Singh wat dit kon regkry. Die vierde bekende geval is dié van Suid-Afrika se eie Herchelle Gibbs, wat in die wêreldbeker toernooi van 2007 ses sesse in een beurt gemoker het.
