Local sportSport

Blou Bulle se junior spanne albei deur na eindstryde

Al kon die Blou Bulle se senior span Saterdagmiddag op Nuweland in Kaapstad nie daarin slaag om die WP in die Curriebeker halfeindstryd te klop nie, sal Bloubul ondersteuners hulself darem kan troos dat daar nog twee kanse is om vanjaar silwerware in die vertoonkas te kry. Dit is moontlik gemaak danksy die feit dat …

Al kon die Blou Bulle se senior span Saterdagmiddag op Nuweland in Kaapstad nie daarin slaag om die WP in die Curriebeker halfeindstryd te klop nie, sal Bloubul ondersteuners hulself darem kan troos dat daar nog twee kanse is om vanjaar silwerware in die vertoonkas te kry.
Dit is moontlik gemaak danksy die feit dat beide die Blou Bulle se junior spanne Vrydagmiddag al deurgedring het na onderskeidelik die finale vir die o.19 en o.21 spanne in ABSA se nasionale reekse.
* Die Bulle se o.19 span, wat eerste op hul puntelys geëindig het, het die Sharks met 43-20 kafgedraf in hul halfeindstryd, wat Vrydagmiddag op Loftus Versfeld gespeel is.
Hoewel die Sharks hard probeer het en halfpad deur die tweede helfte nog in die wedstryd was, het die Bulletjies die krane oopgedraai in die laaste twintig minute. Hulle het in dié tyd drie drieë gaan druk om die oorwinning ongetwyfeld te verseël.
Die Bulletjies het uiteindelik ses drieë gedruk teenoor die twee van die Natallers. Hulle sal nou volgende week in die finaal speel teen die WP se o.19’s.
* Die Blou Bulle se o.21’s moes baie harder werk om ook tot die finaal deur te dring. Hulle was teen rustyd nog met 10-14 agter teen die Goue Leeus se o.21’s, maar danksy die skopskoen van Joshua Stander kon die Bulle die wedstryd uiteindelik wen met 23-19, al het die Goue Leeus een drie meer as hulle gedruk.
Die Bulle het groot karakter en veggees gewys deur terug te kom in die wedstryd, veral toe die Leeus kort na rustyd gaan druk het om op daardie stadium ver voor te loop.
’n Drie deur die Bulle se stewige senter, Rohan Janse van Rensburg en twee strafdoele deur Joshua Stander het egter die wa deur die drif gekry vir die tuisspan.
Hulle speel volgende week ook teen hul eweknieë van die WP in die finaal van dié nasionale kompetisie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button