Nuwe aanslag vir Bulle in 2015
Frans Ludeke het in ’n openhartige gesprek met Rekord erken dat 2014 ’n teleurstellende seisoen was en dat die Bulls en die Blou Bulle hul eie standaarde versaak het, maar die goeie nuus is dat hy verandering beloof, wat ook meer drieë deur die span sal insluit.
“Ons het hoë standaarde en ons was eenvoudig nie goed genoeg in 2014 nie… Ons was kompeterend, maar ons was nie konsekwent genoeg daarmee nie.”
Dit was die eerlike opinie van Frans Ludeke in ’n openhartige gesprek met Rekord, wat gehandel het oor die moeilike seisoen wat verby is en oor sy vooruitsigte vir 2015.
Dit is geen geheim dat Ludeke die afgelope maande onder enorme druk verkeer het nie. Soos hy self erken, het die Bulls én die Blou Bulle in die verlede baie hoë standaarde gestel. Ongelukkig is dit ook so dat die publiek, en veral die geharde Bloubul ondersteuners, die span altyd aan daardie hoë standaarde sal meet.
Hoewel Ludeke in die verlede nie daarvan gehou het om van “spanbou” te praat nie, het hy in die gesprek met Rekord erken dat die jaarlikse verlies van top spelers sedert 2011 erg ontwrigtend vir die vordering van die span was, veral wat die SuperRugby seisoen betref.
Statistieke wys ook dat vanjaar se seisoen in baie opsigte vergelyk kan word met dié van 2008, Ludeke se eerste jaar by die Bulls. Hoewel enkele staatmakers deurgaans beskikbaar was in vanjaar se reeks, was daar net te veel nuwe en onervare spelers wat die skoene van deurwinterde manne moes volstaan. Hierdie situasie het ontstaan weens spelers wat die unie verlaat het, sowel as die ontydige beserings aan die span se vier top losvoorspelers.
Uiteindelik het slegs twee ligapunte in vanjaar se SuperRugby reeks tussen die Bulls en ’n plek in die uitspeelrondtes gestaan. Hoewel Ludeke nie ’n man is wat agter verskonings skuil nie, bly dit ’n feit dat die Bulls met ’n bietjie geluk tog baie naby aan die finaal van vanjaar se SuperRugby reeks sou kon kom. Hulle was onoorwonne op Loftus Versfeld, maar kon nie ’n wegwedstryd wen nie. Tog het die Bulls vanjaar die meeste bonuspunte (5) in die reeks verdien vir wedstryde wat met minder as sewe punte verloor is.
Hierdie statistiese feit bewys dat Ludeke se span vanjaar met die bestes kon saamgesels, maar net nie genoeg diepte en ervaring gehad het om ’n paar naelbyt wedstryde weg van Pretoria af kon wen nie. Al wat die span dus volgende seisoen nodig het om dié probleem te oorkom en ’n plek onder die top spanne in die uitspeelfase te verseker, is die selfvertroue wat met ervaring kom en wat ’n span se “geluk” laat draai in moeilike situasies.
Ludeke het Rekord ook verseker dat daar in die afseisoen hard aan spelers se kondisionering en individuele vaardighede gewerk word om veral die probleme met afronding op die veld uit te skakel. Dit beteken dat Ludeke en sy bestuurspan streef na ’n span wat weer op kliniese manier elke moontlike kans op die veld sal gebruik om teenstanders te uitoorlê.
Ludeke het ondersteuners van die span verseker dat daar verandering op pad is, “veral wat betref ons aanval met die bal in die hand…” Hy het beklemtoon dat die statistiek bewys dat die spanne wat die meeste drieë druk, die top spanne in die kompetisie is. Daarom wil die Bulls volgende jaar volgens Ludeke só speel dat hulle meer drieë druk. In die proses sal hulle volgens hom ook baie konsentreer op omgekeerde besit, wat algemeen in die moderne spel beskou word as die fase vanwaar die meeste drieë gedruk word.
Die boodskap van Frans Ludeke aan Bulls en Bloubul ondersteuners is dus duidelik – staan by die Bulls, want in 2015 gaan dinge verander en die Bulls sal weer ’n wenspan word. Laat ons dus maar hoop hy is reg en Loftus Versfeld kan in die SuperRugby reeks van 2015 weer ’n volgepakte fort wees vir die Blouspan wat teenstanders een na die ander gaffel om uiteindelik weer ’n kampioenspan te word.
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook or follow us on Twitter.
