Pretoria skole kry pak by Noord-vs-Suid toernooi
Die aksie by vanjaar se Noord-vs-Suid skolerugby toernooi het ernstige vrae laat ontstaan oor die krag van skolerugby in Pretoria.
Skolerugby in Pretoria staan onder die vergrootglas ná die uitslae van die afgelope week se Noord-vs-Suid skoletoernooi, waaraan drie van die stad se beste skolespanne deelgeneem het.
Die gasheerskool van die toernooi, Menlopark, sowel as Garsfontein, se eerstespanne het twee keer in vier dae teen skole uit die Kaap pak gekry, terwyl Waterkloof self Saterdag deur ’n skole-toerspan uit Australië geklop is.
Die toernooi het Woensdag begin, maar Waterkloof het slegs Saterdag deelgeneem.
Woensdag het Outeniqua van George vir Garsfontein met 22-10 geklop. Menlopark het op hulle beurt teen Paarl Gimnasium verloor. Die telling was 27-10 in die guns van die Bolanders.
Saterdag was al drie die plaaslike skole uit Pretoria se ooste in aksie, maar hulle het op ‘n streep pakslae gekry.
* Waterkloof is in ’n taai stryd deur ’n gekombineerde skolespan uit Nieu-Suid Wallis in Australië met 26-21 geklop. Die jong Australiërs het veral met hul spel by die afbreekpunte beïndruk en dit is juis dáár waar Waterkloof baie momentum verloor het. Die Klofies se gebrek aan vinnige besit by die afbreekpunte het hul gevaarlikste wapen, hul blitsvinnige vleuel, Runan Venter, té min kanse gegee om die bal in genoeg spasie in die hande te kry. Die een of twee keer dat dit wel gebeur het, het Venter kringe om die Aussies gehardloop.
* Die wedstryd tussen Garsfontein en Paarl Gimnasium was teen rustyd nog met 17-elk gelykop, maar daarna het die manne uit die wynwêreld beheer oorgeneem. Hulle het in die tweede helfte vyf drieë ingeryg om Garsfontein uiteindelik heel gemiddeld te laat lyk. Die teleurstellende aspek van hierdie wedstryd was Garsfontein se gebrekkige samespel. Dit lyk of hulle te veel spelers met provinsiale kontrakte in hul geledere het en dat dié jongmanne dalk voel dat hul skool se eerstespan nie meer vir hulle belangrik is nie.
* Menlopark was nooit werklik in beheer tydens hul wedstryd teen Outeniqua nie. Die seuns uit die Suidkaap het die tuisspan ’n rugbyles geleer, veral by die afbreekpunte en ten opsigte van samespel oor die algemeen. Outeniqua se agterlyn het ook baie skerper en meer ondernemend gelyk, terwyl Menlopark se dissipline onder verdenking was. Dít het die Pretorianers veral in die tweede helfte fokus laat verloor, wat die manne van George in staat gestel het om nog vier drieë by hul twee van die eerste skof te voeg.
Miskien moet die Blou Bulle se skolekeurders vanjaar ekstra moeite doen om talent regoor die stad te soek, want daar was nie veel om oor opgewonde te raak by hierdie toernooi en met dié drie spogskole in aksie nie.
