Local sportSport

Volgende drie weke deurslaggewend vir Bulls

Die Bulls se stewige oorwinning teen die Reds het hulle in ’n posisie geplaas waarin hulle binne die volgende drie weke hul lot positief kan verseël met die oog op die uitspeelrondtes in vanjaar se SupeRugby reeks.

Die Bulls se goeie oorwinning van 43-22 oor die Reds is deur baie ondersteuners met die gebruiklike skeptisisme begroet.

Terwyl die meeste ondersteuners uiteraard bly is oor die oorwinning en die feit dat die Bulls ses drieë kon druk vir die bonuspunt, was daar onmiddelik ook die negatiewe kommentaar. Daar word gemor oor die vier drieë wat die Bulls afgestaan het en dan is daar natuurlik diegene wat ook die oorwinning afmaak deur te verwys na die Reds se laaste plek op die puntelys en die feit dat dié gewese kampioenspan tot dusver vanjaar die melkkoei van die reeks is.

Hoewel daar meriete in albei hierdie argumente is, kan die eerste deel redelik maklik verklaar word. Die Bulls was teen rustyd met 24-5 voor en teen hierdie tyd is dit algemene kennis dat dié span ’n beleid het om eers die wedstryd in die sakkie te kry voor hulle die bal makliker sal rondgooi om meer drieë te probeer druk. Met ’n voorsprong van 19 punte teen rustyd en drie drieë reeds gedruk, kan dit aanvaar word dat Frans Ludeke opdrag gegee het dat die bal in die tweede helfte lug gegee moes word om die telling – én die aantal drieë – te probeer opjaag.

In hierdie omstandighede is die risiko natuurlik altyd daar dat foute gemaak sal word en die Reds is juis ’n span wat baie goed op teenstanders se foute kan reageer met teenaanvalle.

Die Reds se eerste drie het gekom weens ’n amateurfout van die Bulls wat te veel spasie agter die verdedigingslyn oopgelaat het en hulle is onkant betrap deur Nick Frisby se klassieke skoppie in die spreekwoordelike kassie. Hul drie drieë in die tweede helfte was egter almal as gevolg van power verdediging van die Bulls.

Hoewel dit geen verskoning is nie, kan dit ook verstaan word dat die Bulls se fokus en konsentrasie verslap is in die tweede helfte, weens hul ingesteldheid om aan te val. Met vorige wedstyrde in ag genome kan dit aanvaar word dat dié konsentrasie beter behoort te wees teen sterker teenstand.

Die belangrike aspek van die Bulls se SupeRugby veldtog is egter die feit dat hulle lot steeds in hul eie hande is. Hulle is stewig in die voorste plek in die Suid-Afrikaanse groep en die volgende drie wedstryde sal waarskynlik deurslaggewend wees om hul finale lot te bepaal. Pierre Spies en sy manne speel in die volgende drie weke onderskeidelik teen die Sharks (weg), die Stormers (weg) en die Lions (tuis). Daarna het hulle ’n loslootjie voor hul toer aanbreek, wat ’n uiters gunstige loting is.

As die Bulls dus daarin kan slaag om in die volgende drie weke op die wenpad te bly, sal hul stryd om ’n plek in die uitspeelrondtes halfpad gewin wees, want aldrie hierdie spanne blaas in hul nekke vir die eerste plek in die Suid-Afrikaanse groep.

As die Bulls dus as uitgeruste span kan gaan toer en boonop stewig in die eerste plek gevestig is oor vier weke, sal min spanne hulle uit die uitspeelrondtes kan hou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button