Bulls is besig om hegte eenheid te word
Die Bulls se vertoning teen die Sharks in Durban dui daarop dat dié span besig is om in ’n hegte eenheid saamgesnoer te word, wat baie goeie nuus is vir die res van die SupeRugby seisoen.
Die Bulls het Saterdag in Durban gewys dat hulle nie sommer van hul eerste plek in die Suid-Afrikaanse groep op die SupeRugby puntelys gaan afstand doen nie.
Hul oorwinning van 17-10 teen die Sharks in Durban het Pierre Spies en sy manne boonop laat opskuif na die tweede plek op die algehele puntelys, nadat die Rebels verrassend teen die Brumbies gewen het.
Hoewel die Bulls se vertoning nie perfek was nie, is daar tog heelwat aspeke van hul spel wat hul ondersteuners kan laat uitsien na die res van die seisoen. Eerstens moet die situasie van die opposisie in ag geneem word.
Die Sharks was Saterdag desperaat vir ’n oorwinning. Hulle het vooraf openlik verkondig dat die sukses van hul seisoen van dié wedstryd afhang en hulle was vol hoop, veral weens die feit dat nog twee van hul Springbokke, Jannie du Plessis en Beast Mtawarira by Willem Alberts en Marcell Coetzee aangesluit het om hul pak voorspelers te versterk ná hul nederlaag teen die Lions twee weke gelede.
Die Sharks was dus oorgehaal vir ’n oorlewingstryd en hulle het vooraf ook erken dat daar baie aandag gegee is aan hul verdediging, wat voorheen vanjaar verantwoordelik was vir té veel drieë deur hul teenstanders.
Hoewel die Bulls self nog nie op volsterkte is nie, was die span self baie effektief. Soos te wagte het hulle vir ’n groot deel van die wedstryd weer staatgemaak op hul beproefde resep om met hoë skoppe druk op die Sharks te plaas. Sonder sekere sleutelspelers was die Natallers hierdie keer nie in staat om ’n teenvoeter vir dié taktiek te kry nie.
Ook die Bulls se spel in die vaste fasette was puik. Die Sharks het, met die uitsondering van hul haker, met ’n internasionale vaste vyf gespeel, terwyl beide hul flanke ook gevestigde Springbokke is. Met Grant Hatting, Flip van der Merwe en Pierre Spies aan die spits was die Bulls egter solied in die lynstane, terwyl die Sharks se gedugte skrum die Bulls nie ’n enkele tree kon laat retireer in die vaste skrums nie.
Hierdie twee aspekte, asook die Bulls se soliede verdediging, dui op die reuse vordering van die span sedert hulle aan die einde van Februarie die Sharks op Loftus Versfeld verras het.
Nog ’n verblywende faktor is die feit dat Handré Pollard, ten spyte van ’n effense verroeste vertoning, steeds daarin kon slaag om die goeie platform wat sy voorspelers aan hom gegee het, te gebruik om die spel te dikteer. Daarby maak Rudy Paige se interaksie en samespel met sy voorspelers van hom een van die spelers wat die beste vordering toon oor die afgelope seisoen en die Bulls sal hoop dat sy kniebesering nie ernstig is nie.
As die Bulls Saterdag op Nuweland in Kaapstad kan voortbou op hierdie vertoning, sal hulle nog een stappie nader wees aan hul mikpunt om stewig in die eerste plek op die Suid-Afrikaanse groep se puntelys te wees vóór hul toer na Australasië.
