Junior klubspanne Donderdagaand in aksie op Loftus
Die nuwe bestuur van die Blou Bulle rugby-unie het met nog ’n inisiatief vorendag gekom om klubrugby op o.20- en o.21-vlak te versterk en uit te bou.
As gevolg van ’n nuwe inisiatief van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), gaan daar vanjaar baie groter klem gelê word op junior klubrugby.
Deur die spanne in die unie se top o.20, en o.21 ligas een maal per maand almal op dieselfde dag op Loftus Versfeld se B-, C-, en D-velde te laat speel, behoort klubrugby op dié vlak ’n groot hupstoot te kry.
Dis geen geheim dat klubrugby – en veral oopklubs – die afgelope jare sukkel om nuwe spelers te werf nie. Met hierdie inisiatief skep die unie verskeie nuwe moontlikhede en geleenthede om veral skoolverlaters na klubrugby te lok.
Volgens statistieke raak meer as 60 persent van alle skole-rugbyspelers ná matriek verlore vir die spel, omdat hulle eenvoudig ophou speel. Die persepsie bestaan dat daar vir hulle niks oorbly om te bereik as hulle dit nie kan regkry om ’n professionele kontrak te kry nie. Die meerderheid van hierdie spelers weet nie eers dat daar jaarliks ook twee junior provinsiale amateurspanne gekies word wat aan die nasionale kampioenskappe deelneem nie. By hierdie kampioenskappe is talentsoekers van alle unies teenwoordig, wat dus aan die spelers wat deur die net geval het as skolespelers, die geleentheid gee om nog ’n kans te kry om ’n top loopbaan te bou.
Volgens dr. Eugene Hare, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, sal die nuwe reëling ook aan junior klubspelers die geleentheid gee om aan die kultuur en gees van Loftus Versfeld gewoond te raak, terwyl hulle voor groter hoeveelhede toeskouers sal speel as tydens hul normale klubwedstryde op klubvelde.
Dié inisiatief loop ook hand-aan-hand met die sukses van die Enrista-beker toernooi, wat verlede seisoen vir die eerste keer op Loftus Versfeld aangebied is. In dié toernooi kies die klubs in samewerking met die Blou Bulle se skolekeurders agt o.19 spanne, waaraan net matriekulante tydens die Junlievakansie deelneem. Die spelers speel in die kleure van die agt top klubs en word sodoende blootgestel aan klubrugby, terwyl hulle die geleentheid kry om op verteenwoordigende vlak rugby te speel.
Die program vir eerskomende Donderdag (23 April) is:
LOFTUS B-veld:
18:30 – Impala o.20 vs Harlequins
19:50 – Centurion o.20 vs Dragons
21:00 – Naka Bulle o.21 vs Tukkies
LOFTUS C-veld:
18:30 – Naka Bulle o.20 vs Tukkies
19:50 – Impla o.21 vs Quins
21:00 – Oostelikes o.21 vs Polisie
LOFTUS D-veld:
19:50 – Oostelikes o.20 vs Polisie
21:00 – TUT o.20 vs Tuine.
