Jong naelloper wil in Europa slyp
Die plaaslike naelloper, Emile Erasmus, hoop dat sy eerste kans om in Europa teen die wêreld se beste atlete te gaan deelneem ook sy kans op ’n deurbraak in sy atletiekloopbaan sal wees.
As Emile Erasmus sy sin kry, sal hy vanjaar nog by die atletiek-wêreldkampioenskappe in Beijing teen die bestes in die wêreld aantree om die wêreld se vinnigste oor 100 meter te bepaal.
Hy tel al twee jaar lank onder die drie vinnigste mans in Suid-Afrika, maar weens verskeie faktore het Erasmus nog nie baie aandag getrek met sy besondere prestasies nie.
Met persoonlike beste tye van 10.23 sekondes in die 100 meter en 20,87 in die 200 meter, toon dié 23-jarige Pretorianer die belofte om een van die land se beste naellopers van alle tye te word.
Bogenoemde moet boonop gesien word in die lig dat Erasmus eerstens ‘n voltydse student is en nie ‘n professionele atleet, soos die manne wat plaaslik beter as hy geag word nie.
Sy loopbaan as naelloper is nogal ‘n interessante verhaal. Aan die begin van sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Overkruin het Erasmus aanvanklik op verspring en hoogspring gekonsentreer en hom nie veel aan die naellope gesteur nie.
Op 16, in sy graad 10-jaar, is hy deur die bekende Kobus Schoeman onder hande geneem, wat van hom só ‘n goeie naelloper gemaak het dat hy daardie selfde jaar reeds in die 100 meter deur die grens van 11 sekondes kon breek.
In sy matriekjaar het Erasmus ‘n beste tyd van 10,60 in die 100 meter aangeteken. Dit het hom laat besluit om die jaar na matriek nie dadelik vir sy studies in te skryf nie, maar al sy aandag aan sy atletiekloopbaan te gee.
Daardie jaar is hy by beide die Gauteng-Noord junior- en senior kampioenskappe as 100 meter-kampioen gekroon, terwyl hy die bronsmedalje by die Afrika kampioenskappe in Botswana gewen het.
In 2012, het Erasmus by Tukkies ingeskryf as voltydse student in Rekenaar Ingenieurswese, terwyl hy tussendeur ook nog aandag aan sy atletiekloopbaan moes gee.
Hy het tog steeds die 100 meter by die Gauteng-Noord senior kampioenskappe gewen. Die volgende twee jaar was hy ook lid van Tukkies se Varsitybeker atletiekspan.
Erasmus se deurbraak het verlede seisoen by die nasionale kampioenskappe gekom, toe hy die bronsmedalje gewen het op dieselfde dag wat Simon Magakwe die eerste Suid-Afrikaner geword het om die 100 meter in minder as 10 sekondes te hardloop.
Op daardie dag het Erasmus sy persoonlike beste tyd van 10.23 sekondes aangeteken en die atletiekwêreld het met nuwe oë na hom gekyk.
Hoewel hy vanjaar met ‘n besering gesukkel het en nie behoorlik kon voorberei nie, het Erasmus weer die bronsmedalje in die 100 meter gewen op die nasionale kampioenskappe.
Met sy oefenprogram wat nou weer op dreef kom, het hy besluit om sy studies vir drie maande te onderbreek en ‘n geleentheid aan te gryp om in Europa en by die Dakar World Challenge te gaan deelneem.
Daar kan hy hom teen die wêreld se topatlete toets en Erasmus glo dit sal die regte stap wees na sy droom om wel nog vir vanjaar se wêreldkampioenskappe in China te kwalifiseer. Met goeie prestasies hoop hy natuurlik ook om borge los te slaan, wat hom in staat sal stel om ná sy studies voltyds op atletiek te konsentreer.
Erasmus het ook sy oog op volgende jaar se Olimpiese Spele en hy glo dat hy in 2016 reeds reg sal wees om slegs die tweede Blanke man ná Christophe Lemaitre van Frankryk te word om die grens van 10 sekondes in die 100 meter te breek.
Soos Lemaitre en die meeste ander topnaellopers is Erasmus lenig (1,92 meter) én sterk gebou en sy tye as jong atleet vergelyk baie goed met manne wat later in hul loopbane dié prestasie behaal het.
Dit mag vir sommige kenners na ‘n verregaande doelwit klink, maar as Erasmus se verbetering oor die afgelope vyf jaar én sy jeug in ag geneem word, is dit nie onmoontlik nie dat dié seun uit die noorde van Pretoria binnekort atletiekgeskiedenis kan maak.
