Polisie is gunsteling om Lucas Strachan skild te wen
Pretoria Polisie se vyfde agtereenvolgende volpunte-oorwinning in die Carltonbeker liga beteken dat hulle slegs enkele ligapunte kort om seker te maak dat hulle vanjaar die Lucas Strachan skild sal wen.
Pretoria Polisie het die afgelope Saterdag byna seker gemaak dat hulle vanjaar die Lucas Strachan skild sal wen, nadat hulle hul vyfde volpunte-oorwinning in ’n ry in die Carltonbeker kompetisie behaal het.
Hoewel Tukkies in Polisie se nekke blaas ná hul oorwinning teen Harlequins en boonop een wedstryd minder as die Bobbies gespeel het, kort laasgenoemde net twee ligapunte om seker te maak dat hulle die Lucas Strachan skild wen. Dié skild word toegeken aan die span wat voor is op die puntelys na afloop van die eerste rondte van die reeks.
Die enigste manier waarp Polisie verhinder kan word om dié skild vanjaar weer te wen, is as Centurion hulle eerskomende Saterdag kan klop én hulle verhoed om enige ligapunte uit dié wedstryd te kry. Tukkies sal dan volpunte in húl laaste twee wedstryde voor die halfpadmerk moet kry.
* Polisie het die afgelope naweek ses drieë gedruk in hul oorwinning van 38-27 oor Naka Bulle. In antwoord daarop kon die manne van die Moot slegs twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Hoewel Naka Bulle een van die beter pakke voorspelers in die reeks het, was Polisie net te goed vir hulle voorlangs, terwyl die Bobbies agterlangs te veel spoed gehad het om in toom gehou te kon word.
Naka Bulle is egter nie verneder nie en dié span het by tye in die wedstryd gewys dat hulle self baie gevaarlik kan wees. Hulle het beslis die vermoë om vanjaar nog ’n verrassing of twee te lewer, hoewel hulle tans onder aan die puntelys lê.
* Hoewel Tukkies self ses drieë teen Harlequins gedruk het, was dié wedstryd ook baie taaier as wat die eindtelling van 41-25 wys. Harlequins het veral verras met hul voorspelerspel en Tukkies het aanvanklik pakslae gekry in die vaste skrums. Dit was eers nadat die mees onderskatte loskopstut in Pretoria, Justin Forward, deur die studente opgestuur is om te help dat hulle die skrums kon stabiliseer. Forward is beslis goed genoeg om vanjaar Curriebeker rugby te speel.
Harlequins se losskakel, Paul Walters, was ook effens wisselvalling, maar hy het gewys dat hy ’n wedstrydwenner kan wees in kragmetings waar die Blokkiestruie teen spanne laer op die puntelys speel.
Tukkies se woellige flank, Dwight Pansegrouw, was hul beste speler.
* Oostelikes het met hul oorwinning van 43-21 oor TUT bevestig dat hulle beslis weer stewig in die wedloop is om vanjaar onder die vier halfeindrondte-kandidate te tel in die toernooi.
Jan Boot se span speel al hoe beter en hulle is besig om te bewys dat die veranderings by hul klub nie werklik hul vertonings op die veld raak nie. Hulle het ses drieë teen TUT se drie gedruk, terwyl hul regtervleuel, Duval Smith, ook 13 punte met die skopskoen bygedrae het.
* Eerskomende naweek sal baie aandag gefokus wees op die tweestryd tussen Polisie en Centurion, terwyl die wedstryd in die Tuks stadion tussen Tukkies en Oostelikes ook interessant behoort te verloop. TUT en Naka Bulle sal kragte meet in die naweek se derde wedstryd, terwyl Harlequins ’n losklootjie sal hê.
