Bulls se lot nie meer in hul eie hande
Die Bulls se nederlaag teen die Brumbies beteken dat hul nou moet hoop dat ander spanne hulle ’n guns sal doen om vir die uitspeelfase te kwalifiseer.
Die Bulls se nederlaag teen die Brumbies in hul derde wedstryd op hul toer in Australasië beteken dat Pierre Spies en sy span se lot in die SupeRugby toernooi nie meer in hul eie hande is nie.
Die Brumbies het die Bulls in Canberra met 22-16 gewen. Die tuisspan het drie drieë teenoor die Bulls se een gedruk.
Die Bulls het aanvanklik belowend begin, maar soos die wedstryd gevorder het, het hulle stelselmatig swakker gespeel en hul verdediging was soms skokkend swak. Hulle het oudergewoonte ook weer teruggeval op hul hoogskop-en-jaag taktiek die oomblik toe die Brumbies die voortou geneem het halfpad deur die eerste helfte.
Skeidsregter Marius van der Merwe van Suid-Afrika het die Brumbies boonop met moord laat wegkom by die afbreekpunte, wat die Bulls veral in die eerste helfte van baie momentum beroof het.
Soos sake tans staan lyk dit of daar vier spanne gaan wees wat sake sal moet uitspook vir die sesde plek op die puntelys, wat ook die laaste span is wat vir die uitspeelfase sal kwalifiseer. Spanne soos die Hurricanes, Chiefs, Highlanders en Stormers se kanse is baie goed om onder die eerste vyf te eindig. Een van die twee top Aussie-spanne, die Brumbies of die Waratahs, het ook ’n gereserveerde plek onder die top drie.
Dit beteken die Aussie span wat nie derde eindig nie sal saam met spanne soos die Bulls, die Crusaders en die Lions sake moet uitspook vir die sesde plek op die finale puntelys.
Die Bulls is egter tans in die negende plek met 36 ligapunte. Hulle sal dus moet hoop dat die ander drie kandidate vir die sede plek in die volgende twee weke nog een of meer wedstryde verloor om hul eie kanse te verbeter.
Die Bulls sal ook volpunte (oorwinnings met vier drieë) in albei hul laaste twee wedstryde teen die Rebels (in Melbourne) en die Cheetahs (op Loftus Versfeld) moet kry om hul kanse te versterk.
Puntemakers:
Brumbies: Drieë: Henry Speight (2), Jordan Smiler. Doelskoppe: Christian Lealiifano (2). Strafdoel: Christian Lealiifano Bulls: Drieë: Lappies Labuschagne. Doelskop: Handre Pollard. Strafdoele: Pollard (3).
Spanne: Brumbies: 15 Jesse Mogg, 14 Henry Speight, 13 Tevita Kuridrani, 12 Robbie Coleman, 11 Joe Tomane, 10 Christian Lealiifano, 9 Nic White, 8 Ita Vaea, 7 David Pocock, 6 Scott Fardy, 5 Sam Carter, 4 Rory Arnold, 3 Ben Alexander, 2 Stephen Moore (kaptein), 1 Scott Sio. Plaasvervangers: 16 Josh Mann-Rea, 17 Allan Alaalatoa, 18 Ruan Smith, 19 Jordan Smiler, 20 Jarrad Butler, 21 Michael Dowsett, 22 Nigel Ah Wong, 23 James Dargaville.
Bulls: 15 Jurgen Visser, 14 Francois Hougaard, 13 JJ Engelbrecht, 12 Burger Odendaal, 11 Bjorn Basson, 10 Handré Pollard, 9 Rudy Paige, 8 Pierre Spies (kaptein), 7 Arno Botha, 6 Deon Stegmann, 5 Grant Hattingh, 4 Flip van de Merwe, 3 Marcel van der Merwe, 2 Adriaan Strauss, 1 Dean Greyling. Plaasvervangers: 16 Callie Visagie, 17 Trevor Nyakane, 18 Morne Mellett, 19 Jacques du Plessis, 20 Pieter Labuschagne, 21 Jacques Louis Potgieter, 22 Travis Ismaiel, 23 Jesse Kriel. Skeidsregter: Marius van der Westhuizen Assistent sekidsregters: Rohan Hoffmann, Ed Martin TV skeidsregter: Ian Smith
