Polisie steeds onoorwonne, buit Lucas Strachan skild
Pretoria Polisie is ná afloop van die eerste rondte van vanjaar se Carltonbekerreeks nog onoorwonne en hulle het reeds hul eerste trofee gewen.
Pretoria Polisie het die afgelope naweek seker gemaak dat hulle vanjaar weer met die Lucas Strachan skild in hul vertoonkas kan spog, toe hulle die eerste rondte van die Carltonbeker toernooi onoorwonne afgesluit het.
Tukkies het intussen ook hul stem dik gemaak met twee sewentigtalle binne drie dae.
* Verlede Donderdagaand het Tukkies en TUT hul eersterondte wedstryd afgehandel, wat vroeër weens die universiteitsvakansie uitgestel is.
Tukkies was in dié wedstryd in ’n moeilike bui en hul mede-studente moes dit ontgeld. Met die blitsige vleuel, Riaan Brits aan die voorpunt met sy driekuns, het Tukkies uiteindelik elf drieë ingeryg om TUT met 71-0 af te ransel.
* Saterdag het Tukkies, met slegs ’n paar veranderings aan die span wat drie dae gelede teen TUT amok gemaak het, weer teen Oostelikes uitgedraf. Die manne van die Ooste het reeds drie oorwinnings behaal in vanjaar se reeks, maar Tukkies se aanslag het hul stand op die puntelys in perspektief gestel. Hierdie keer was dit die hardwerkende losvoorspeler, Gerrit Engelbrecht, wat sy tweede driekuns van die seisoen behaal het om sy spanmaats te lei na nóg ’n drieëfees. Tukkies het wéér elf keer agter die doellyn gaan kuier en uiteindelik die wedstryd met 75-14 gewen.
Oostelikes sal hul wonde baie vinnig moet lek, want eerskomende Saterdag wag Centurion op hulle in hul laaste wedstryd van die eerste rondte.
* Intussen het Polisie die afgelope Saterdag hul verpligtinge in die eerste rondte van die Carltonbekertoernooi voltooi toe hulle hul sesde agtereenvolgende oorwinning behaal het. Polisie het Centurion in ’n klipharde en spannende stryd met 14-9 geklop.
Dié wedstryd was regdeur in die weegskaal en dit was ’n baie goeie advertensie vir Carltonrugby. Veral die twee pakke voorspelers het mekaar van die begin tot die einde opgedreun. Die twee spanne het gewys dat hulle albei steeds baie deeglik in die wedloop is om vanjaar die Carltonbeker kroon te dra.
Polisie se linkervleuel, Ruan van Loo, se drie het uiteindelik die verskil gemaak tussen wen en verloor. Dit was ook die enigste drie van die wedstryd.
* Die derde wedstryd van die afgelope naweek was dié tussen Naka Bulle en TUT. Of TUT nog die gevolge van hul pakslae teen Tukkies gedra het is nie seker nie, maar hulle het teen die manne van die Moot wéér slae gekry Die eindtelling was 59-33 in die guns van Naka Bulle.
Die twee spanne het saam 14 drieë in hierdie wedstryd gedruk, wat daarop dui dat die toeskouers baie opwindende rugby kon sien.
Naka Bulle het met hierdie oorwinning weer gewys dat hulle ’n baie beter span is as wat hul posisie op die puntelys aandui. Daar is egter nog heelwat rugby wat gespeel moet word en die manne van die Moot is beslis nog ’n kandidaat om vir die halfeindrondte te kwalifiseer, veral as hulle op hul laaste twee vertonings kan voortbou.
* Eerskomende naweek vind daar net twee ligawedstryde plaas in die Carltonliga. Harlequins sal probeer om nader te kruip aan die vierde plek op die puntelys wanneer hulle TUT op hul tuisveld in Groenkloof ontmoet.
In die ander wedstryd kan Oostelikes selfs by die halfpadmerk in die derde plek op die puntelys eindig as hulle daarin sou slaag om te verras en met Centurion af te reken. Op hulle beurt kan die manne uit die suide hul posisie konsolideer en nader aan die boonste twee spanne skuif as hulle volpunte teen Oostelikes kan kry.
