Nuwe Sakekamerleier wil deure oopmaak vir Pretoria
Die nuwe voorsitter van die Pretoria Sakekamer, Janhendrik Oosthuizen, wil meer praktiese waarde vir lede skep. Met sterker sakeverbindings, groter sigbaarheid en doelgerigte samewerking wil hy plaaslike ondernemings help groei en Pretoria se ekonomiese toekoms versterk.
Vir Janhendrik Oosthuizen, die nuwe voorsitter van die Pretoria Sakekamer, gaan ’n sterk sakegemeenskap oor veel meer as net netwerkgeleenthede en besigheidskaartjies uitdeel.
Vir hierdie sake-strateeg, gaan dit oor mense wat mekaar ondersteun en geleenthede skep.
Hy glo ook dat sakelui bereid moet wees om verantwoordelikheid vir hul stad se toekoms te aanvaar.
Onder Oosthuizen se leiding wil die organisasie ’n volgende stap neem: om die waarde wat dit vir sy lede bied, meer tasbaar en meetbaar te maak.
“’n Sakekamer is net so sterk as die verskil wat dit in sy lede se besighede maak,” sê hy.
Hierdie gedagte is ook die onderbou tot die uitgangspunt waaruit sy visie vir die organisasie spruit.
Hy wil hê dat lede duidelik moet kan identifiseer wat hulle uit hul betrokkenheid kry, of dit nou ’n nuwe kliënt, ’n waardevolle sakekontak, toegang tot kennis of hulp met ’n uitdaging is.
Hy glo ook dat plaaslike ondernemings meer sigbaarheid verdien.
Deur sterker verhoudings met die media en die Sakekamer se eie kommunikasiekanale wil hy Pretoria se sakeverhale vertel en die kundigheid binne die stad se sakegemeenskap onder die aandag van ’n groter gehoor bring.
Kleiner ondernemings en nuwe entrepreneurs is volgens hom ’n belangrike deel van hierdie prentjie.
Hulle beskik dikwels nie oor dieselfde netwerke en hulpbronne as groter ondernemings nie. ’n Betekenisvolle bekendstelling, mentorskap of toegang tot ’n nuwe kliëntekring kan daarom ’n groot verskil maak.
Hy verduidelik die Sakekamer wil gevestigde sakelui en nuwe entrepreneurs nader aan mekaar bring, onder meer deur kennisdeling, praktiese opleidingsgeleenthede en gesprekke oor onderwerpe soos finansies, bemarking en digitale hulpmiddels.
“Die doel is om ’n omgewing te skep waarin ervaring gedeel word en ondernemings mekaar help groei.”

Oosthuizen se visie strek egter verder as die sukses van individuele besighede.
Hy beskou die verhouding tussen Pretoria en sy sakegemeenskap as wedersyds.
Hy glo ’n stad wat goed funksioneer, skep ruimte vir ondernemings om te groei, terwyl suksesvolle ondernemings werksgeleenthede skep en tot die plaaslike ekonomie bydra.
“Besighede wat saamstaan om hul strate en buurte skoon, veilig en aantreklik te hou, maak ’n sigbare verskil.”
Hy beklemtoon dat samewerking met die munisipaliteit en ander rolspelers belangrik bly, maar dat ondernemings ook self verantwoordelikheid moet aanvaar.
Vir hom beteken dit dat die sakegemeenskap nie bloot probleme moet uitwys en op ander moet wag om dit op te los nie.
Sakelui moet ook met praktiese voorstelle vorendag kom, vennootskappe bou en betrokke raak by oplossings.
Oosthuizen sien ander sakeorganisasies nie as mededingers nie, maar as moontlike vennote in die strewe na ’n sterker Pretoria.
Die stad se posisie as Suid-Afrika se diplomatieke hoofstad bied boonop besondere geleenthede glo die bekende en gewilde motiveringspreker.
Oosthuizen is ook besturende direkteur en uitvoerende hoof van Etiket Agency, ’n handelsmerk- en kreatiewe agentskap. Hy het ’n BCom-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy ontwikkel leierskap- en groeikonsepte, waaronder die Atomic Leader-raamwerk, die ReIMAGINE Toolkit™ en die RISE-platform.
Met meer as honderd ambassades en diplomatieke missies in Pretoria glo hy die Sakekamer kan sy lede beter aan internasionale handelsgeleenthede blootstel.
Hy glo so ’n aksie kan nuwe deure vir ondernemings oopmaak en hul bereik verder as die plaaslike mark uitbrei.
“Ons wil doelbewus verstaan waar iemand in die ontwikkeling van sy of haar onderneming staan, en watter mense of kundigheid die volgende stap kan help moontlik maak.”
Hy erken veral die rol wat Fergus en Marina Ferguson gespeel het om die organisasie te vestig en ’n ruimte te skep waar Pretoria se sakelui gereeld kon saamkom. “Ons verantwoordelikheid is om op hulle werk voort te bou.”
Oor ’n jaar wil hy kan wys dat die sakegemeenskap gehelp het om spesifieke plaaslike uitdagings aan te spreek en dat Pretoria se ondernemings groter sigbaarheid geniet.
“Ek sien die volgende fase as ’n geleentheid om die verbindings wat reeds bestaan in waarde vir lede en die stad te posisioneer. Dit vra dat ons mooi luister, ons prioriteite duidelik maak en verantwoordelikheid neem vir uitvoering.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
