Local sportSport

All Blacks se beter vaardighede help hulle om Bokke te klop

Die Springbokke se nederlaag teen die All Blacks Saterdagaand in Johannesburg beteken dat Heyneke Meyer, anders as sy twee voorgangers, nie daarin kon slaag om die Rugby Kampioenskap in sy eerste termyn as afrigter te wen nie.

Richie McCaw en sy All Blacks het die Springbokke Saterdagaand op Emirates Airline Park in Johannesburg hul soveelste duur les geleer toe die Nieu-Seelanders die belangrike toets in die Rugby Kampioenskap tussen die twee spanne met 27-20 gewen het.

Die rustyd telling was 10-10 en die Springbokke was in die tweede helfte heeltyd voor tot vier minute voor die eindfluitjie. In dié tyd het Richie McCaw, uitgeslape kaptein en flank van die All Blacks, die wendrie gaan druk met die hulp van ’n truuk by ’n lynstaan waarmee hy die Bokke vyf meter van die doellyn af oorhoops gevang het.

Onder die negatiewe lesse wat die Bokke en hul bestuur moes leer tel die feit dat jy teen dié span vir 80 minute een honder persent gefokus moet wees op die verdediging en dat jy nie kan bekostig om slordige foute op die aanval te maak as jy die geleentheid het om punte aan te teken nie.

Die Bokke het twee gulde kanse verspeel met hanteerfoute, terwyl Lood de Jager ná ’n dryfbeweging letterlik enkele sentimeters kort van die lyn gedruk het. As net twee van hierdie kanse in punte omskep is, kon hulle die All Blacks weer, soos verlede jaar, in Johannesburg geklop het.

Daar was natuurlik ook heelwat positiewe punte vir die Springbokke wat hulle uit dié wedstryd kon haal. Die belangrikste daarvan is eerstens die feit dat Heyneke Meyer nou, soos baie ander rugbykenners, ook behoort te besef dat jy in moderne toetsrugby eerder met té veel as te min baljagters kan speel. Tweedens sal Meyer dalk nou ook moet erken dat ’n ou beginsel in rugby steeds tel: Om na ’n rugby-oorlog soos ’n toets teen die All Blacks op te ruk, moet jy jou beste moontlike span kies. In hierdie opsig moet ervaring dalk terugstaan vir vorm.

Die Springbokke het baie goed gespeel in die eerste helfte, maar soos genoem, nie al hul geleenthede benut om punte aan te teken nie. In die tweede helfte het hulle die All Blacks toegelaat om terug te kom in die wedstryd en dit wou lyk of fiksheid en geestelike gehardheid hier ’n rol gespeel het.

Hierdie toets was egter – soos alle toetse tussen die Springbokke en die All Blacks – ’n klipharde wedstryd wat met ’n bietjie geluk ook in die Suid-Afrikaners se guns kon draai. Die Bokke het immers die vaste fasette oorheers en in die eerste helfte selfs by die afbreekpunte koning gekraai.

Hoewel Heyneke Meyer se wenpersentasie as Springbok afrigter steeds dieselfde as dié van Jake White en vier persent beter as dié van Peter de Villiers is, kon hy in sy eerste (enigste?) termyn as Springbok afrigter nie daarin slaag om die Rugby Kampioenskap te wen nie.

White het dié prestasie in sy eerste seisoen as afrigter reggekry, terwyl De Villiers dit in sy tweede seisoen kon vermag.

Dit moet natuurlik in gedagte gehou word dat die voormalige Drienasies-Kampioenskap waarskynlik effens taaier geword het sedert dit in 2012 die Rugby Kampioenskap geword het met die byvoeging van Argentinië as vierde deelnemer. Dié verandering het ook saamgeval met Meyer se oorname as Springbok afrigter.

Meyer kan hierdie statistiek natuurlik niksseggend maak in die rugbypubliek se oë as sy span oor twee maande daarin sou slaag om die wêreldbeker toernooi te wen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button