Dis weer tyd vir die derby-skouspel tussen Boys High en Affies
Op Saterdag 8 Augustus is dit weer tyd vir die groot jaarlikse rugbyderby tussen Pretoria Boys High en hul bure oorkant die treinspoor, Afrikaans Hoër Seunsskool.
Dis een van die oudste skole derbies in Suid-Afrika en almal weet dat dié groot jaarlikse stryd tussen Pretoria Boys High School en Afrikaans Hoër Seunsskool die vermoë het om groter verkeersprobleme rondom Loftus Versfeld te veroorsaak as die meeste Curriebeker wedstryde.
Op Saterdag 8 Augustus is dit weer sulke tyd. Tussen tien- en vyftienduisend toeskouers sal teen 13:00 op die skoolterrein van Boys High rondom die bekende Brooks rugbyveld saamdrom om deel van hierdie groot jaarliks skouspel te wees.
Die eerste derby tussen dié twee spogskole het reeds in 1923 plaasgevind. Tot op hede het hulle reeds 111 keer teen mekaar gespeel. Hiervan het Affies 61 gewen, Boys High was 41 keer aan die wenkant en 9 van die tweestryde het gelykop geëindig.
Die laaste keer dat Boys High egter daarin kon slaag om Affies te klop, was in 2008, toe hulle met 21-15 gewen het. Die afgelope ses jaar was Affies die wenners. In 2011 en 2012 het die twee spanne selfs twee keer in een seisoen teen mekaar gespeel en Affies was elke keer die wenner.
’n Groot verantwoordelikheid ten opsigte van die trots van hul skool rus dus Saterdag op die skouers van Reenen Buys-Du Plessis en sy spanmaats. Hoewel hulle nog nie vanjaar die wêreld aan die brand gespeel het nie, moet hulle probeer om Affies se spogspan te tem.
Affies het vanjaar nog net twee keer verloor. Albei dié wedstryde is vroeg in die seisoen gespeel en albei was teen spogskole uit Kaapstad (South African College Schools) en Stellenbosch (Paul Roos Gimnasium). Intussen het hulle met skole soos Framesby (Port Elizabeth), Dr. EG Jansen (Boksburg), KES (Johannesburg), Waterkloof, Martizburg College (Pietermaritzburg), Glenwood (Durban) en selfs Grey Kollege (Bloemfontein) afgereken.
Hoewel Affies beslis as die gunsteling sal opdraf, kan Boys High nooit onderskat word nie. Soos genoem is daar baie eer en trots op die spel in hierdie derby en die gees by die wedstryd sal beslis ook help om die Boys High-manne selfs bo hul normale vermoë te laat presteer.
Van gees gepraat, dít is iets wat elke Pretorianer wat in skolerugby belangstel een keer in sy lewe moet beleef. Die puik dissipline van beide skole se seuns is uitstaande en die sang op die volgepakte paviljoene gee enigiemand hoendervel van aandoening. Kleurryke diregente moedig die honderde seuns gewoonlik op die paviljene aan, terwyl Affies jaarliks spog met hul lewensgrootte Wit Bul voor die paviljoen. Dan is daar Boys High se reuse vlae en die doedelsak-orkes wat sorg vir ’n buitengewone belewenis.
Die derby gaan ook nie net oor die eerste spanne se wedstryd nie. Op dié dag speel agt senior spanne, vyf o.16 spanne, vier o.15 spanne en vyf o.14 spanne van die twee skole ook teen mekaar, wat van dié geleentheid Pretoria se grootste jaarlikse skole-rugbyfees maak.
Die eerste wedstryde skop reeds om 07:45 af, terwyl die groot stryd tussen die eerste spanne om 13:10 sal begin.
SPANNE:
Boys High: 15. V French, 14. J Volschenk, 13. M Cameron, 12. S Phiri, 11. D Ngwenya, 10. K Pratt, 9. M Cross, 8. R Buys-Du Plessis (captain), 7. W Gersteling, 6. M Schurmann, 5. LT Mampuru, 4. F de Bruin, 3. Z Soutar, 2. G de Bruin, 1. K van Zyl.
Afrigters: M Smuts en M Housdon.
Afrikaans Hoër Seunsskool: 15. Pieter Coetzer, 14. Karel Koch, 13. Henco Jordaan, 12. Louritz van der Schyff, 11. Christiaan Strydom, 10. Ruan de Swardt, 9. Divan Henning, 8. Eduan Lubbe (kaptein), 7. Vic Meyer, 6. Regardt du Plessis, 5. Henk Pretorius, 4. Pierre Pienaar, 3. Niell Bezuidenhout, 2. Schalk Erasmus en 1. Janu Espag.
Afrigters: Jaco Koch en Jan Hendrik Hattingh
