Alle skoolverlaters welkom by Tukkies-proewe
Tukkies se rugbybestuur is opgewonde oor die nuwe talent wat by o.19 proewe verwag word.
Die gewese Springbok-kaptein en -keurder Wynand Claassen is een van die kenners wat asem ophou oor die talent wat op 2 en 9 Februarie te siene gaan wees wanneer TuksRugby onder 19-proewe hou op die Universiteit van Pretoria se Sportkampus (LC de Villiers-sportterrein).
Claassen is die voorsitter van die keurkomitee wat onder andere ook bestaan uit die gewese Springbok-skrumskakel Tommy du Plessis en die gewese Blou Bul-afrigter Chris Buitendach, deesdae een van die hoofafrigters van TuksRugby.
Claassen, wat Noord-Transvaal en Natal aangevoer het en die Bok-kaptein op die meelbomtoer in Nieu-Seeland was, het ná sy speeldae in die nasionale keurkomitee gedien.
Sy kundigheid word wêreldwyd hoog aangeslaan.
Volgens Buitendach is alle skoolverlaters welkom om aan die proewe deel te neem. Dit is nie net vir ingeskrewe studente van die UP nie.
“Ons deur staan oop vir enige speler wat vir homself ’n rugbytoekoms by Tukkies wil skep. Tukkies het reeds vyf Springbok-kapteins en 90 draers van die Groen en Goud opgelewer,” sê Buitendach.
“Handré Pollard, wat verlede jaar sy Springbok-kleure verwerf het, was in 2014 nog die losskakel in die Varsitybeker-span van UP-Tuks 1. By TuksRugby kan ons jou niks belowe nie, maar ons skep vir jou besondere geleenthede danksy ons uitmuntende infra-struktuur, kundige span afrigters en vennootskap met die Blou Bulle Maatskappy.”
Die proewe op 2 en 9 Februarie vind om 18.00 op die B- en C-veld op Tukkies se LC de Villiers sportkampus plaas.
Meer inligting is beskikbaar by Bennie Burger by 076-401-9712.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
