Local sportSport

Kiewietneste op gholfbane beskerm met nuwe inisiatief

’n Nuwe inisiatief waarmee honderde kiewiete se lewens gered kan word op Suid-Afrikaanse gholfbane, is verlede week amptelik bekendgestel deur Pretoria se bekende gholfavonturier, Heinrich du Preez.

’n Nuwe inisiatief deur Pretoria se bekende gholfavonturier, Heinrich du Preez, in samewerking met BB-Silverton Nissan, kan die lewens van  honderde ongebore kiewiete en jong kiewietkuikens red.

Die meeste Suid-Afrikaners ken die gedrag van kiewiete, daardie langbeenvoëls wat oral in die land voorkom. As enige gevaar naderkom, raak hulle baie aggressief. Omdat die meeste gholfspelers egter deesdae met gholfkarretjies op die baan ry, steur hulle hul nie veel aan die geraas van die kiewiete nie.

Die rede vir die kiewiete se geraas is egter dat hul neste gewoonlik in die omgewing is waar hulle aggressief raak en hulle wil dan hul eiers of kuikens beskerm. Omdat hierdie voëls verkies om hul neste in korterige gras in ’n oop spasie te maak, gebeur dit dan dat hulle dit in die sogenaamde semi-rof gedeelte van ’n gholfbaan maak. Die neste word gewoonlik goed gekamoefleer, wat beteken dat baie eiers en kuikens bly in die slag wanneer gholfspelers onwetend daaroor ry met ’n gholfkarretjie. Instandhoudingspersoneel van gholfbane kan ook so ’n nes met eiers en al vernietig as hulle daaroor ry met ’n trekker of ’n grassnyer.

Du Preez, wat baie ure op gholfbane regoor Suid-Afrika spandeer het om die verskeie wêreldrekords waarmee hy spog op te stel, het hierdie probleem raakgesien en besluit om iets daaraan te doen. Met die hulp van sy vriende by BB-Silverton Nissan het hulle ’n spesiale beskermingsraamwerk ontwerp om die kiewiete op gholfbane ’n kans te gee om hul kuikens veilig uit te broei.

Met die hulp van BB-Silverton Nissan sal hierdie raamwerk van staal op groot maat vervaardig word en Du Preez sal dit dan aan alle gholfbane waarmee hy te doen kry aanbied. Die koepel-raamwerk word eenvoudig dan deur die baanopsigter bo-oor ’n kiewietnes geplaas waar dié neste deur gholfbaanpersoneel raakgeloop word. Die vlaggie wat bo-op die raamwerk geplaas word, sal gholfspelers en instandhoudingspersoneel dan waarsku dat daar ’n kiewietnes is en hulle sal die nes kan vermy.

Du Preez en die Handelaarshoof van BB-Silverton Nissan, Deon Grobler, het die eerste raamwerke verlede week by die Woodhill gholfbaan afgelewer. Die projek sal mettertyd so wyd as moontlik uitgebrei word.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button