Tuks se Varsitybekerspan gereed vir groot aanslag
Tukkies se Varsitybekerspan, wat vanjaar vir die laaste keer deur Pote Human afgerig word, is een van die gunstelinge om weer die titel te wen.
“Dis tyd om weer uitmuntend te wees. Dis nie net die Universiteit van Pretoria wat die titel dringend nodig het nie. ’n Goeie Varsitybeker veldtog kan mense weer rondom sport versoen, en ons weet almal dat die land dit nou weer dringend nodig het”.
Dít was die kern van die boodskap wat prof. Cheryl de la Rey gehad het vir die Varsitybekerspan van Tukkies, toe hulle verlede week amptelik deur hul borg, Afgri, onthaal is. Die spelers se amptelike wedstryduitrusting is ook by dié geleentheid aan hulle oorhandig.
Tukkies het vanjaar weer ’n baie sterk span, wat voor die begin van die reeks al as een van die gunstelinge beskou word om die toernooi vanjaar weer te wen.
Dié span was reeds twee keer die Varsitybeker kampioen. Hulle het die beker in 2012 en 2013 huis toe gebring, maar kon daarna nog nie weer die eindstryd haal nie.
Vanjaar sal ook vir die Pretorianers se afrigter, Pote Human, ’n baie belangrike jaar wees. Hy het die span kort na hul tweede titel in 2013 oorgeneem. Hoewel sy span drie jaar na mekaar die gesogte Carltonbeker kon wen, het die Varsitybeker hulle intussen ontwyk. Verlede jaar was hulle regdeur die seisoen die beste span en het bo-aan die puntelys geëindig, maar hulle het toe verrassend met een punt teen die Pukke verloor in die halfeindstryd.
Human het reeds ’n pos by die Blou Bulle aanvaar en sal Tukkies na vanjaar se Varsitybekerreeks groet. Hy sal dus hoop om dié beker te voeg by al die ander hoogtepunte wat hy reeds in sy loopbaan as rugbyafrigter behaal het.
Tukkies beskik vanjaar oor ’n baie goed gebalanseerde span. Daar is ervare manne wat reeds meer as een Varsitybeker veldtog op hul kerfstok het, terwyl daar ook jongmanne is wat vir die eerste keer op dié vlak gaan speel. Die span sal aangevoer word deur Ruan Steenkamp, voormalige kaptein van die Junior Springbokke.
