Briljante De Kock en Amla se kolfwerk troef Engelse in Centurion
Die Proteas het met ’n puik oorwinning van sewe paaltjies teen Engeland op SuperSport Park in Centurion seker gemaak dat hulle nog ’n kans staan om die eendag-reeks tussen die twee krieketspanne te wen.
Dis twee vir Engeland en een vir Suid-Afrika in die reeks van vyf eendagwedstryde, nadat die Proteas Dinsdagaand teruggeveg het om die derde wedtryd in dié reeks met sewe paaltjies te wen.
Daar was waarskynlik ’n hele paar toeskouers wat teen die einde van Engeland se beurt oorweeg het om huis toe te gaan. Niemand sou hulle kon kwalik neem nie, want op daardie stadium het dit byna na ’n uitgemaakte saak gelyk dat daar later die aand reën oor SuperSport Park sou uitsak. Hulle sou ook nie kwalik geneem kon word as hulle sou twyfel of die Proteas in staat sou wees om teen meer as 6 lopies per boulbeurt te kolf om die Engelse se totaal van 318 verby te steek nie.
Al die ongelowige Thomasse het egter nie rekening gehou met die breë kolf van Quinton de Kock nie. Dié jongman het die arme Engelse boulers en veldwerkers laat bontstaan met sy flitsende kolf en hy het byna regdeur sy beurt van 135 lopies vinniger lopies aangeteken as wat hy balle ontvang het. Hy het dié totaal uiteindelik van net 117 balle gemoker. Dit was sy tiende internasionale honderdtal.
Hoewel Hashim Amla baie meer besadig gekolf het as De Kock, het sy 22ste honderdtal in internasionale eendagkrieket ’n groot bydrae gelewer tot die feit dat hy en De Kock ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord kon opstel vir ’n eerste-paaltjie vennootskap teen Engeland. Dié nuwe rekord staan nou op 239 lopies.
Nadat De Kock uit is, het die Suid-Afrikaanse kamp Dawid Wiese ingestuur, waarskynlik om die lopietempo dramaties te probeer opjaag. Wiese is bekend as groot slaner, maar na net sewe lopies het hy ’n moeilike veeghou probeer speel, wat misluk het. Die bal is tussen sy bene deur en het sy paaltjies getref en Wiese moes terugstap.
Hierna het Amla en Faf du Plessis weer die skip op rustige waters gestabiliseer, tot só ’n mate dat dit uiteindelik net ’n kwessie van tyd was voor die Suid-Afrikaners die wedstryd sou wen. Faf du plessis het die voorreg gehad om die wenlopies te slaan in die 47ste boulbeurt.
Met hierdie oorwinning het die Proteas seker gemaak dat hulle hul kans lewend hou om die eendag-reeks nog te kan wen. Na drie wedstryde is dit nou twee vir Engeland en een vir Suid-Afrika, met twee wedstryde wat oorbly. Vrydag word die vierde wedstryd in Johannesburg gespeel, terwyl die vyfde Sondag (14 Februarie) in Kaapstad sal plaasvind.
