Nuwe era begin vir Oostelike Eagles rugbyklub
Ingrypende ontwikkelings by die Oostelike Eagles rugbyklub het tot gevolg dat hulle vanjaar nie meer in die Blou Bulle se top liga sal speel nie, maar dié klub het ander planne wat dit die moeite werd sal maak vir spelers om deel van hul geledere te bly.
Die Blou Bulle se beroemde Carltonbeker liga is nie vir sissies nie. In vandag se semi-profesionele klubrugby-era verg dit baie waagmoed, goed gevestigde klub infrastruktuur en ’n wesenlike borg om ’n klub van top gehalte te bou.
Die Oostelike Eagles het die afgelope vier jaar hard gewerk om kompetereend te wees in die Carltonliga en kan spog dat hulle sedert 2012 een keer die eindstryd en twee keer die halfeindrondte kon haal – ’n besondere prestasie vir so ’n jong klub.
Die uitdaging vir hierdie klub van die ooste van Pretoria bly egter die gebrek aan ’n eie tuisveld en klub infrastruktuur. Dis die enigste manier waarop die gemeenskap betrek kan word en jong spelers deel word van ’n klub se DNA. Die Eagles het hierdie jaar ’n ooreenkoms aangegaan om die velde van Harlequins te gebruik as hulle tuisbasis. Dit skakel enige onsekerheid oor oefen- en wedstrydtye uit en gee die klub toegang tot top fasiliteite vir die seisoen.
Die Blou Bulle se kompetisiereëls is baie duidelik daaroor dat klubs wat in die Carltonbeker se A-liga wil deelneem, in staat moet wees om drie spanne in die ope afdeling en twee onder-ouderdom spanne (o.21 en o.20) moet kan waarborg. Vir die Eagles was hierdie vereiste die afgelope drie jaar byna ’n onbegone taak.
Die Klub moes dus ernstig planne maak om homself te herposisioneer om sy voortbestaan en groei te verseker. Die Eagles beskik oor kwaliteit senior spelers en afrigters en wou daarom ’n model ontwikkel wat daardie spelers die geleentheid bied om hulself nogsteeds op die rugby veld uit te leef. Dit is daarom besluit dat die Eagles sal voortbou op sy sterkpunt – sewes rugby.
Die Eagles All Stars is ’n amateur 7’s span wat verlede jaar in verskeie internasionale toernooie deelgeneem het en selfs kan spog met oorwinnings oor die nasionale spanne van Pole en Botswana. Die span het met welslae aan die SAFLAND Sewes toernooi in Namibie deelgeneem, vir vier jaar agtereenvolgens aan die Emirates Dubai 7’ deelgeneem en is vir die eerste keer in sy geskiedenis genooi om aan die Las Vegas 7’s toernooi deel te neem.
Met Willem Strauss as voormalige Klub President is dit nie moeilik om te verstaan waarom die Eagles so sterk staan in sewes rugby nie.
Strauss is egter uit die Carltongroepering verkies is as ’n vise-president van die Blou Bulle, terwyl hy boonop ook onlangs as voorsitter van die Carltonforum verkies is. Daarom is daar met die goedkeuring van Oostelike Eagles besluit dat hy na ’n ander Carlton klub moet skuif, omdat sy bydrae as ervare rugbyadministrateur goud werd is vir die Bulle. Strauss ondersteun egter steeds sy ou klub, die Eagles, op ’n verskeidenheid van maniere.
Die 7’s seisoen is net ses maande lank en daarom is gesoek na alternatiewe geleenthede om die spelers van Oostelikes/Eagles in die “af seisoen” te kan ontwikkel. Daar is besluit dat die klub voorts in die Carlton B liga sal meeding, maar dat daar terseldertyd gewerk sal word om internasionale geleenthede in beide 7’s en 15-man rugby vir sy spelersgroep te ontwikkel. Daar is reeds goeie vordering gemaak op die gebied en drie spelers het verlede jaar in Duitsland gespeel, terwyl vier spelers in die VSA en nog ’n speler in Skotland geleenthede gekry het.
Hierdie is unieke geleenthede vir kwaliteit spelers wat dalk nie deur die top klubs gekontrakteer is nie, maar wel op hoër vlak kan meeding en moontlik ook ander werk- of studiegeleenthede wil ondersoek tydens hierdie “uitruil seisoene”.
Senior spelers wat belangstel om verder as 7’s spelers te ontwikkel of moontlik oorsese opsies wil oorweeg, is welkom om met die klubvoorsitter, Leon Potgieter, te skakel by 082-720-7650.
