Venter kan deurbraak maak met geveg in Letland
Pretoria se beste bokser, Danie Venter, veg eerskomende naweek in Letland vir die Internasionale Boks Federasie (IBF) se interkontinentale junior swaargewig titel.

Die 37-jarige Danie Venter se boksloopbaan staan einde se kant toe, maar hy kan met ’n bietjie geluk nog ’n top titel agter sy naam skryf voor sy uittrede.
Venter boks eerskomende naweek (21 Februarie) teen die hoogaangeskrewe Mairis Briedis van Letland. Die geveg sal plaasvind in Riga, die hoofstad van Letland. Die vakante interkontinentale junior swaargewig titel van die Internasionale Boks Federasie (IBF) sal op die spel wees.
Vir Venter sal ’n oorwinning in hierdie geveg deure kan oopmaak na ’n moontlike wêreldtitelgeveg. As hy die 31-jarige Briedis, wat tans vyfde op die gesaghebbende bokswebwerf, BoxRec, se wêreldranglys is, kan klop, sal hy waarskynlik onmiddelik onder die top 20 op die meeste groot boksbeheerliggame se ranglyste verskyn.
Venter is steeds die Wêreld Boksfederasie (WBF) se junior swaargewig kampioen. Hy het dié titel in September 2013 gewen, toe hy Shawn Cox van Barbados uitgeslaan het. Sedertdien het Venter egter nog net drie keer in die kryt geklim, onder andere teen die hoogaangeskrewe Oleksandr Usyk van Ukraine. Dit was in ’n geveg om die WBO se interkontinentale junior swaargewig titel. Usyk het Venter met ’n tegniese uitklophou in die negende rondte geklop, nadat Venter die grootste deel van dié geveg voor was op punte.
Net soos Usyk, is Briedis ook nog onoorwonne in sy professionele loopbaan van 18 gevegte. Hiervan het hy slegs drie met punte-oorwinnings behaal, terwyl hy sy teenstanders gestuit het in al die ander gevegte. Hy is die huidige junior swaargewig kampioen van die Internasionale Boks Assosiasie (IBA).
Volgens Venter besef hy dat die einde van sy loopbaan naderkom, maar hy sal graag op ’n hoogtepunt wil klaarmaak. As hy dus vir Briedis kan klop, behoort hy binnekort ’n kans te kan kry om vir ’n belangrike titel van een van die top boksbeheerliggame te veg.
Venter is fisiek in ’n baie goeie toestand. Hy het in Julie verlede jaar teen Vusumzi Mlindwa as swaargewig in die kryt geklim en binne ’n paar minute met die Oos-Kapenaar klaargespeel. Intussen het hy sowat 10kg afgeskud om weer as junior swaargewig te kan boks.
