Krieketsprokie word waar vir jong Pretorianer
’n Jong krieketspeler van TUT het Woensdagaand ’n krieketsprokie beleef toe hy as toeskouer van die paviljoen af nadergeroep is om saam met die Highveld Lions teen die Titans te speel.
Die 20-jarige Pretorianer, William Wentzel, is mal oor krieket en hy het soos enige ander Suid-Afrikaanse seun al drome gedroom van krieketglorie.
Die moontlikheid dat hy egter as toeskouer van die paviljoen af uitgesoek sou word om ’n paar minute later in ’n amptelike Momentum eendagwedstryd vir die Highveld Lions teen die Titans veldwerk te doen, het hy in sy wildste drome nie voorsien nie. Dít is egter presies wat met hierdie beskeie jongman gebeur het toe hy en twee van sy vriende Woensdagaand besluit het om die Titans in hul laaste wedstryd in die plaaslike eendagreeks te gaan ondersteun.
Wentzel en twee van sy vriende het op SuperSport Park se hoofpviljoen, naby die spelers se kleedkamers, gesit om die wedstryd dop te hou. Intussen het twee terugslae kort na mekaar die Highveld Lions getref.
Eers het die Lions se bouler, Eddie Leie, ’n besering opgedoen terwyl die span opgewarm het. Hy is toe vervang deur die twaalfde man, Rassie van der Dussen. Die wedstryd was egter skaars aan die gang, toe nóg ’n bouler van die Lions, Carmi le Roux, sy dyspier sodanig beseer dat hy die veld moes verlaat.
Skielik was die Lions ’n speler kort. Daar is besluit dat die afrigter, Geoffrey Toyana, sou gaan veldwerk doen totdat ’n plaasvervanger gevind kon word.
Een van die Titans se bestuurslede het Wentzel en sy twee vriende in hul Moot Christain Acadamy hempies raakgesien. Hy het blykbaar geweet dat dié akademie ’n top krieketprogram aanbied en hy het die jongmanne nadergeroep. Hy vra toe wie van hulle is die beste veldwerker en Wentzel se twee vriende stem onmiddelik saam dat hy beslis die beste krieketspeler onder hulle is.
Hierna het alles soos ’n spokie vir Wentzel verloop. Hy is na die Highveld Lions se kleedkamer begelei en hy moes Leie se klere en krieketskoene aanpas. Dit het hom gepas en tien minute later kon hy die trappies van die spelers se kleedkamer afstap om by sy nuwe spanmaats uit Johannesburg aan te sluit om hulle met die veldwerk te help.
Wentzel sê die Lions-manne het hom dadelik tuis laat voel. Hoewel hy uiteraard op sy senuwees was, het hy sy bes gedoen om nie die span in die steek te laat die, hoewel hy téén sy gunstelingspan moes speel. Weens reën is die wedstryd na 35 boulbeurte per span verkort, maar Wentzel het tog ’n paar kanse gekry om te wys wat in hom as veldwerker steek. Hy is immers, behalwe vir sy betrokkenheid by die Moot Christain Acadamy, ook ’n staatmaker by die TUT krieketklub.
Volgens hom is sy droom nou nog groter om self ’n voltydse professionele krieketspeler te word, nadat hy die kans gehad het om die gevoel te kry om saam met provinsiale en internasionale sterre te speel. Hy het ook sy paar ure van roem geniet. “Ja, my selfoon het nie ophou lui nie. My vriende, my ouers en selfs onderwysers het my gebel om my geluk te wens met dié kans wat ek gekry het”, het hy aan Rekord vertel.
* Reën het later in die wedstryd tydens die Lions se kolfbeurt weer begin val en die wedstryd het onbeslis geëindig. Die Highveld Lions eindig egter tweede op die puntelys en speel volgende week teen die Warriors in die halfeindstryd. Die Titans het laaste op die puntelys geëindig.
