Verrassende wending in plaaslike klubrugby
Twee van die oudste en roemrykste rugbyklubs in Pretoria het besluit om saam te smelt en onder ’n nuwe vaandel aan klubkompetisies deel te neem.
Die toekoms van klubrugby is weer op die spits gedryf in plaaslike rugbykringe nadat dit bekend geword het dat twee van die oudste klubs onder die jurisdiksie van die Blou Bulle besluit het om saam te smelt.
Harlequins en Polisie, wat albei nog verlede seisoen onafhanklik deel was van die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga, sal vanaf die komende seisoen as een span aan die Assupolreeks en die Carltonbeker liga deelneem. Die twee klubs het na maandelange onderhandeling besluit om saam te smelt en hulle sal in die toekoms bekendstaan as die Quins Bobbies Rugbyklub. Harlequins se fasiliteite in Totuisstraat, Groenkloof, sal as hul basis dien.
Nuwe truie sal vir die nuwe klub ontwerp word, wat so ver moontlik elemente van albei die vennote se roemryke kleure sal insluit, terwyl albei die klubs se wapens op die nuwe trui sal pryk.
Dié verwikkeling het veral vir sommige jarelange ondersteuners van Polisie as ’n skok gekom. Die Bobbies, soos die klub al vir dekades lank bekendstaan, het klubrugby vir die eerste 30 jaar na die stigting van die Noord-Transvaal Rugby-unie in 1938 oorheers. Tussen 1938 en 1968 het die klub die Carltonbeker 17 keer gewen en twee keer gedeel, toevallig een keer – in 1949 – met Harlequins. Daarna het Tukkies se oorheersing begin, maar die Bobbies was regdeur een van die sterkste klubs in Pretoria. Hulle het die Carltonbeker sedert 1969 nog nege keer gewen en drie keer gedeel.
Nadat dié klub die Carltonliga in die negentigerjare van die vorige eeu weer oorheers het, het dinge weens verskeie redes skeef begin loop ná die draai van die eeu en teen 2003 was die klub op die punt om sy deure te sluit. ’n Paar ou staatmakers het egter ingegryp en die klub weer opgebou. Na agt sukkelseisoene sonder enige trofee het Polisie in 2006 herstel en die Carltonbeker vir die eerste keer sedert 1997 weer gewen. Sedertdien was Polisie konstant die enigste klub wat Tukkies op gereelde grondslag kon klop.
Die Bobbies het ook sedert hul herlewing in 2006 by meer as een geleentheid die interprovinsiale Assupolreeks gewen, terwyl hulle die Blou Bulle verskeie keer by die nasionale klubkampioenskap (sedert 2013 die Gemeenskapsbeker) verteenwoordig het.
Die klub het egter probleme gekry by die nuwe bevelstruktuur van die Polisiekollege in Pretoria-Wes, wat dekades lank as hul basis gedien het. Dié gebied rondom die Polisiekollege het ook al hoe gevaarliker geword vir spelers wat uit ander dele van die stad daarheen moes reis vir oefeninge in die aand, nadat Polisie ’n oopklub geword het waarvan nie-lede van die SAPD ook lid kon word. Hulle was dus enkele seisoene gelede verplig om na ’n nuwe tuiste te soek en het tydelik die geriewe van die gewese Pretoria Rugbyklub in Groenkloof gebruik.
Onderhandelings met die Pretoria Sportunie, wat in beheer van dié geriewe is, kon egter weens verskeie redes nie gefinaliseer word nie en volgens een van die klub se veterane, Johan Kluyts, is dit die hoofrede vir die besluit om met Harlequins saam te smelt.
“Jy kan eenvoudig nie ’n klub in die moderne omstandighede bedryf sonder ’n permanente tuiste nie,” het Kluyts aan Rekord verduidelik.
Volgens hom verander dinge in rugbygeledere vinnig en selfs SuperRugby unies sukkel om te oorleef. Daarom moes Polisie aanpas terwyl hulle nog gesond en sterk genoeg is en borge agter hulle het. Hulle beskou dus nie die samesmelting met Harlequins as die einde van Polisie rugbyklub nie, maar as ’n nuwe fase waarin hulle aanbeweeg het om by moderne vereistes aan te pas.
Hoewel Harlequins die oudste oorlewende klub in Pretoria is, kon hulle die Carltonbeker sedert 1938 slegs twee keer wen en een keer deel. Die klub is egter al byna 80 jaar deel van die Carltonbeker toernooi en hy beskik oor puik fasiliteite en ’n roemryke geskiedenis. Faktore soos die demograsiese ontwikkeling in Pretoria se stadsgebied en voorstede soos Sunnyside, asook die krimpende getalle onder klubspelers het ook by Harleqins ’n invloed gehad. Hoewel die klub enkele oplewings beleef het die afgelope dekade, het hulle gesukkel om in die veranderende tye by te hou in die Carltonbeker liga.
Dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, het aan Rekord gesê dat die aansoek van die twee klubs se samesmelting hierdie week bespreek sal word, maar dat hy nie probleme voorsien vir die goedkeuring daarvan nie.
Volgens Hare sal die Carltonliga vanjaar waarskynlik voortgaan met slegs ses spanne. Hy het gesê TUT, die wenners van die Eersteliga (deesdae die Carlton B-liga) in 2016 is nog nie gereed om terug te keer na die top liga nie en dat hulle tyd nodig het om hul rugbyklub weer op te bou.
Hare het ook bevestig dat Rustenburg Impala vanjaar ten volle deel van die Carltonbeker liga sal wees. Hulle het die afgelope twee seisoene teen die top spanne in die liga gespeel, maar kon volgens ooreenkoms nie kwalifiseer om die beker te wen nie. Vanjaar sa dié klub, wat verlede seisoen die Gemeenskapsbeker (Gold Cup) kampioen was en dus as die beste oopklub in die land beskou kan word, met Tukkies, Centurion, Naka Bulle, Dragons en die nuwe Quins/Bobbies meëding om die Carltonbeker.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram
