Local sportSport

Pretoria stoeigemeenskap bring hulde aan André Brink

Die stoei-gemeenskap van Pretoria het hulde gebring aan die 13-jarige André Brink, wat in Desembermaand in ’n motorongeluk gesterf het.

Stoeikenners in Noord-Gauteng het die week hulde gebring aan die13-jarige André Brink, die jong kampioen-stoeier wat op 16 Desember 2016 in ‘n motorongeluk in die Vrystaat gesterf het.

André Brink was een van die twee kinders van Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, wat in dié ongeluk gesterf het toe die Brink-gesin op pad was na hul vakansiebestemming.

Die Olimpiese stoeier, Heinrich Barnes, wat deesdae ook jonger stoeiers as afrigter bystaan, het Brink as ’n talentvolle sportseun beskryf wat nog groot hoogtes in die sport kon bereik.  Barnes was betrokke by sy afrigting sedert hy op 5-jarige leeftyd by TuksStoei aan die sport begin deelneem het.

In die afgelope agt jaar het Brink twee Suid-Afrikaanse titels verower en hy was ’n gereelde lid van die Noord-Gautengse provinsiale span.

“Ondanks sy prestasies op ’n jong ouderdom het hy altyd hard gewerk om nog beter en fikser te word en sy stoeitegnieke uit te brei,” het Barnes gesê.

Cobus van den Berg, voorsitter van Tuks Stoei, het gesê André was ’n kranige stoeier wat met groot toewyding en sportmanskap deelgeneem het.  Sy klubmaats, afrigters en selfs teenstanders het net lof gehad vir sy nederigheid en positiewe gesindheid.

Lede van die Suid-Afrikaanse stoeigemeenskap het ook op sosiale media herinneringe gedeel oor die “vriendelike blondekop” wat ’n vasberade mededinger op die stoeimat was, maar dit ook geniet het om geselsies aan te knoop met almal.  Daar is ’n Facebook-blad geskep vir boodskappe aan die Brink-gesin. Dit kan gevind word onder die titel “Nuus oor Danie Brink en gesin”.

Andre Brink en sy suster, Rachel, wat ook in die ongeluk gesterf het, se gedenkdiens word eerskomende Sondag om 14:30 in die Hatfield Christian Church in Pretoria  gehou.  Stoeiers word gevra om hulle hoogste kleure aan te trek.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button