Tuks Reds in nasionale Rugby League eindstryd
Die Tuks Reds het weer gewys dat hulle die beste Rugby League span in Pretoria is toe hulle Saterdag vir die eindstryd van die nasionale Rhino Cup toernooi gekwalifiseer het.
In ’n toernooi vol eersteklas Rugby League aksie het die Tuks Reds die afgelope naweek gekwalifiseer om eerskomende Saterdag in die Rhino Cup eindstryd te speel.
Drie plaaslike spanne was betrokke by die toernooi, wat ook as voorberyding vir die streekskampioenskap van die noordelike provinsies gedien het. Die wedstryde is by die Tuine Sportklub aangebied.
Die hoofwedstryd tussen die Groenkloof buurmanne, Tuks Reds en Quins se Uitnodigingsspan, het vir vuurwarm Rugby League aksie gesorg en hierdie twee spanne het die toeskouers by die Tuine Sportklub, tuiste van die Grizzlies Rugbyklub, deurgans op hulle voete gehad. Plettervatte, stormlopies en uitmintunde balhantering het vir al die aksie gesorg.
Hoewel Quins vroeg in die wedstryd die toon aangegee het en eerste gaan druk het, was daar na 20 minute se spel net een span op die veld. Quins het na die drie 6-0 voorgeloop, maar kon nie weer punte aanteken nie. ’n Drie tel vier punte in Rugby League en ’n doelskop twee punte.
Toe die damwal breek het Tuks se manne hulle spiere in alle erns begin bult. Ná harde woorde van die afrigtingspan en taktiese skuiwe vanaf die bank (in Rugby League is daar 10 plaasvervangers en ’n speler mag weer op die veld gaan as hy vervang is), het die studente hulle ritme gevind.
Teen rustyd was die telling reeds 16-6 in die studente se guns, maar in die tweede helfte het hulle die krane oopgedraai en nog ses keer gaan druk om die eindtelling op 48-6 te laat staan.
Ruaan du Preez was Tuks Reds se groot uitblinker en is as man van die wedstryd aangewys.
In die voorwedstryd het ’n Northern Bulls Uitnodigingspan ’n besoekende span uit Mphumalanga, die Broncos Uitnodigingspan, met 24-16 geklop.
Tuks speel die komende naweek in die eindstryd van die Suid Afrikaanse Rugby League (SARL) se premier klub-kompetiesie, die Rhino Cup, teen die Bears van die Oos-Rand. Die wedstryd vind weer plaas op die Grizzlies se A-veld by die Tuine Sportklub. Dit beloof om ook ’n klipharde fisieke stryd te wees, want Tuks en Bears was oor die afgelope vyf jaar toonaangewers in die Rhino Cup.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram
