Local sportSport

Quo vadis klubrugby?

Onlangse woelinge in die geledere van klubrugby in Pretoria het die vraag by baie bekommerde rugbyliefhebbers laat ontstaan hoe die toekoms van klubrugby lyk.

Die knuppel is behoorlik in die hoenderhok gegooi met die aankondiging dat twee stoere rugbyklubs in Pretoria, Polisie en Harlequins, gaan saamsmelt, soos Rekord verlede week berig het.

Reaksie op hierdie dramatiese verwikkeling wissel hoofsaaklik tussen drie standpunte.

Eerstens is daar die realistiese standpunt van die twee partye self, wat eenvoudig by ’n punt gekom het waar hulle nie werklik ’n ander keuse gehad het nie.

Dan is daar ernstige negatiewe (selfs hartseer) reaksie van rugbyliefhebbers wat emosionele en sentimentele bande met die twee klubs gehad het.

Die derde reaksie gee professionele strukture in rugby en die bestuur van die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) die skuld vir die verwikkelinge in klubrugby oor die afgelope dekade, waar die unie se top liga nou reeds verskeie klubs verloor het. Roemryke klubs soos TUT, Korrektiewe Dienste, Weermag, die Silver Valke (Silverton) en Eersterus speel deesdae in die unie se onderste ligas of sukkel om te oorleef, terwyl klubs soos Pretoria, Oostelikes en NKP glad nie meer bestaan nie.

Rekord het met verskeie rolspelers gesels en die meeste kenners en rugby-administrateurs wat tans nog by die sport op klubvlak betrokke is, is dit eens dat die hele rugby-opset in Suid-Afrika drasties verander het en dat klubrugby desnoods ook geraak word deur hierdie veranderinge. Daarom moet daar volgens hulle rasioneel en realisties oor die saak besin word en ’n oplossing gevind word om klubrugby op die lang termyn te red.

Verskeie rolspelers het daarop gewys dat klubrugby nie in isolasie staan teenoor die probleme wat die sport oor die wyer spektrum het nie. Dit is ’n feit dat top klubs deesdae lywige begrotings het om spelers vir hul kostes en opoffering te vergoed. Dit beteken dat top klubs inderdaad op ’n semi-professionele vlak bedryf word, hoewel spelers nie salarisse ontvang nie, maar slegs toelaes. Top klubspelers het almal alternatiewe beroepe, maar om hulle by die spel betrokke te hou word hul onkostes so ver moontlik gedek, aangesien hulle soms ver moet reis na oefeninge. Manne in professionele beroepe se tyd kos ook geld.

Die voorsitter van die Polisie rugbyklub, wat nou saam met Harlequins gaan smelt, Gert van der Merwe, is ook as spelersagent op die hoogste vlak by die professionele spel betrokke. Hy wys daarop dat verskeie top rugby-unies in Suid-Afrika in die moeilikheid is en dat die finansiële eise al hoe groter word weens die rand se swak waarde teenoor groter internasionale geldeenhede. Daarom sien hy ’n toekoms met minder professionele unies, maar beter top klubligas, hoewel dié ligas ook minder spanne sal akkommodeer.

Van der Merwe glo egter dat die kwaliteit van klubrugby sal verbeter omdat minder spelers by unies betrokke sal wees en daarom in klubrugby ’n heenkome sal moet vind. Dié invloedryke rugbyman het aan Rekord gesê dat hierdie vooruitsig nie noodwendig ’n slegte ding is nie, aangesien meer spelers uit klubligas die kans sal kry om deur professionele unies opgeraap te word as hulle presteer.

Die bekende sportpromotor, Willem Strauss, stem met Van der Merwe saam. Net soos Van der Merwe sien hy ook ’n toekoms met minder klubs in die top liga, maar dat dié spanne semi-professioneel bedryf sal word. Beide Strauss en Van der Merwe glo ook dat klubrugby op die langer termyn gered kan word deur ’n superliga tot stand te bring waar daar oor provinsiale grense meegeding sal word. In hierdie verband glo hulle byvoorbeeld dat unies soos die Blou Bulle hande sal moet vat met die Leeus, Luiperds en Valke om so ’n interprovinsiale klubliga tot stand te bring.

Volgens Strauss sal hy nie graag wil sien dat enige klub sy deure sluit nie, maar hy voorsien ’n duidelike onderskeid tussen die top klubs wat oor provinsiale grense heen kan meeding en die res wat dan sal voortgaan om op plaaslike vlak as gemeenskapsklubs in sosiale ligas betrokke te wees.

Hy glo egter dat daar meer aandag aan junior ligas gegee moet word om klubs aan te moedig om skoolseuns te werf vir hul o.19 en o.20 ligas. Dit sal dus beteken dat meer skoolseuns na hul skoolloopbane vir die spel behoue kan bly en dit sal meer talent in die stelsel beteken, wat weer hierdie ligas sal versterk.

Die Enristabeker toernooi, wat Strauss se breinkind is, sal vanjaar ook voortgaan. Hierdie toernooi gee aan skoolseuns wat oor die hoof gesien is by die keuring van amptelike Bloubul skolespanne (Cravenweek, Akademieweek en die Noordvaal-toernooi) die geleentheid om op verteenwoordigende vlak in die kleure van top klubs te speel.

Die Blou Bulle het ook die afgelope twee seisoene begin om wedstryde in junior klubligas (o.19 en o.20) op Donderdae-aande by Loftus Versfeld aan te bied. Hierdie strategie het groot byval gevind en ’n duidelike oplewing in die junior klubligas tot gevolg gehad.

Strauss en Van der Merwe glo albei dat die volwaardige professionele unies verminder moet word en dat ’n kompetisie soos die Curriebeker dan op krag-teen-krag basis byvoorbeeld tussen net agt unies uitgespook moet word.

Een van klubrugby se grootste kopsere bly egter geld en, net soos professionele unies, vind klubs dit al hoe moeiliker om borge te kry. Baie plaaslike klubs het hul hoop gevestig op fondse van die BBRU, nadat daar aanduidings was dat inkomste uit die ontwikkeling van die sogenaamde “Noordgronde-Projek” (die sakekompleks wat tussen Loftus Versfeld se noordpaviljoen en Parkstraat gebou word) na klubs gekanaliseer sou word. Dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die BBRU, het aan Rekord bevestig dat ’n deel van die winste uit dié projek aan klubs beskikbaar gestel sal word. Volgens hom sal hierdie voordeel egter eers realiseer as die kompleks voltooi is en in bedryf gestel word. Dít sal na verwagting eers laat in 2018 gebeur.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button