Local sportSport

Tuks wen titaniese stryd teen Maties in Pretoria

Ruan Steenkamp en sy dapper Tuks-troepe het Maties in ‘n klipharde wedstryd op Loftus Versfeld Maandagaand in gietende reën geklop om hul Varsitybeker veldtog op ’n hoë noot te begin.

Tukkies het hul Varsitybeker veldtog van 2017 met ’n baie goeie oorwinning van 13-9 oor hul aartsvyand, Maties, begin.

Maklik was dit egter nie. Die manne van Stellenbosch het die grootste deel van die wedstryd voorgeloop, maar die Pretorianers het werklik karakter gewys deur vas te byt tot die einde. Die wenpunte is eers ses minute voor die eindfluitjie aangeteken.

Die wedstryd is in gietende reën op Loftus Versfeld in Pretoria beslis. Hierdie gure weersomstandighede het ’n reuse demper op die spel geplaas en van die sprankelende hardlooprugby wat vooraf verwag is, het nie veel gekom nie.

Beide spanne moes noodgedwone meer met hul voorspelers aanval, terwyl die twee losskakels se skopstewels ook ’n groot rol in die verloop van die spel gespeel het.

Hoewel Tukkies met ’n ervare pak voorspelers op die veld verskyn het, was dit die Maties wat veral in die eerste helfte in die vaste fasette koning gekraai het. Hulle het die tuisspan in die vaste skrums swaar laat leef en baie van Tukkies se probleme het juis daar begin.

Die weer het natuurlik ook hanteerwerk bemoeilik en dit het veroorsaak dat die wedstryd nooit werklik aan die gang kon kom nie. Verskei belowende bewegings het met hanteerfoute geëindig.

Tukkies se voorspelers het in die tweede helfte beter begin vaar. Hulle het veral hul probleme in die vaste skrums uitgesorteer, terwyl hul balretensie ook verbeter het.

’n Strafdoel na meer as ’n kwartier se spel in die tweede helfte het Tukkies vir ’n paar minute laat voorloop. Daarna het Maties se losskakel, Ernst Stapelberg, egter weer sy span se neuse voor gekry met sy derde strafdoel.

Hierna het die titaniese stryd voortgegaan, maar dit was duidelik dat Tukkies besig was om momentum op te bou. Losskakel Tinus de Beer het hierdie momentum slim gebruik met twee breekslae kort na mekaar en die tweede keer kon hy die doellyn haal vir die wenpunte.

 

PUNTEMAKERS:

TUKKIES: 13 Drieë: Chris Massyn, Tinus de Beer.  Strafdoele: Tinus de Beer (1).

MATIES: 09  Strafdoele:  Erns Stapelberg (3).

 

Skeidsregter: Jaco Pretorius

 

TUKKIES: 15. Divan Rossouw, 14. Dewald Naude, 13. Toko Maebane, 12. Impi Visser, 11. Keanan van Wyk, 10. Tinus de Beer, 9. Theo Maree, 8. Chris Massyn, 7. Marco van Staden, 6. Ruan Steenkamp (c), 5. Eli Snyman, 4. Aston Fortuin, 3. Neethling Fouche, 2. Jan-Henning Campher, 1. Andrew Beerwinkel.
Plaasvervangers: 16. Theuns Reynolds, 17. Jaco Holtzhausen, 18. Brian Leitch, 19. Eduan Lubbe, 20. Raegen Oranje, 21. Christo Hamman, 22. Mervano da Silva, 23. Franco van den Berg.

MATIES: 15 Craig Barr, 14 Duncan Saal, 13 Kyle Steyn, 12 Braam Venter, 11 Edwill van der Merwe, 10 Ernst Stapelberg, 9 Paul de Wet, 8 Devon Nash, 7 Kobus van Dyk, 6 Beyers de Villiers, 5 Johan Momsen, Ernst van Rhyn, 3 Jacobus van der Merwe, 2 Freddie Kirsten 1 Wesley Adonis

Plaasvervangers: 16 Craig Corbett, 17 Niel Oelofse, 18 Janco Venter, 19 Mitchell Carstens, 20 Logan Boonzaaier, 21 Chris Smith, 22 Ryan Muller, 23 Wikus Groenewald

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button