Tuine Sportklub kry nuwe ingang
Die Tuine Sportklub het verlede week hul nuwe ingang vanuit Van der Hoffweg amptelik geopen.
Na maande se onderhandeling met die owerhede, beplanning en konstruksie kon die Tuine Sportklub verlede week hul nuwe ingang in die bekende Van der Hoffweg in gebruik neem.
Hierdie ontwikkeling beteken soveel vir dié klub, dat die bestuur besluit het om dit behoorlik te vier met ’n amptelike openingsgeleentheid.
Tydens die openingseremonie het die voorsitter van die Tuine Sportklub, Jaco Olivier, verduidelik dat hierdie ontwikkeling baie groter betekenis vir die klub het as wat op die oog af blyk. Hy het gesê die feit dat die klub in die verlede nie vanuit enige hoofroete bereik kon word nie, het beslis ’n negatiewe impak op die publiek se ondersteuning gehad.
“Ons wil bekend wees as die gemeenskap se voorkeur sosiale bestemming, maar ons ou ingang het ons basies van die gemeenskap van Tuine geissoleer,” het hy gesê.
“Van der Hoffweg skei Tuine en Daspoort en die gebrek aan ’n ingang vanuit dié besige en bekende straat het ons in ’n mate moeiliker toeganklik gemaak vir die mense wat ons graag by die klub wil verwelkom. Nou het ons met hierdie nuwe hoofhek ’n meer toeganklike poort na die mense van ons gemeenskap,” het Olivier verduidelik.
Volgens Olivier is die ander ooglopende voordeel van die spoggerige nuwe hek natuurlik die geleentheid vir borge om hul produkte op die konstruksie te adverteer en sodoende blootstelling te kry aan die verkeer in een van Pretoria se besigste strate.
Tydens die openingsgeleentheid van die nuwe toegangshek is twee gedenkplate onthul, waarmee twee spesiale lede van die klub vereer is. Op die westelike muur is ’n gedenkplaat vir Cecil de Koker, voormalige klubbestuurder wat verlede jaar tragies oorlede is. Die klub se terreinmeester, Wally Olivier, is vereer met ’n gedenkplaat op die oostelike muur van die ingang.
Die opening van hierdie toegangshek is die nuutste ontwikkeling in die transformasie van die Tuine Sportklub, wat ook die afgelope jare die tuiste van die Grizzlies rugbyklub is. Die klub is bekend vir sy puik fasiliteite, nie net vir die beoefening van sportsoorte soos rugby, krieket en netbal nie, maar ook vir algehele sosiale verkeer. Die goed toegeruste restaurant en kroeg en die gerieflike klubhuis maak dié klub ’n voorkeurbestemming vir die gemeenskap op meer as een manier.
Tuine Sportklub en die Grizzlies rugbyklub sien boonop uit na ’n besige jaar. Behalwe vir al die klub se eie verpligtinge in die Blou Bulle se verskillende ligas is daar ook die FLIA-toernooi wat by die klub aangebied word, terwyl die Blou Bulle se amptelike o.13 Cravenweek proewe ook daar sal plaasvind. Die Noord-Transvaal Bokkieweek proewe van die AVS is ook op dié klub se skedule.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:







