Bonuspunt oorwinning vir Tukkies oor Madibaz
Tukkies het Maandagaand in Pretoria met die Madibaz van Port Elizabeth afgereken in hul tweede Varsitybeker wedstryd van die seisoen.
Tukkies het hul onoorwonne status in die Varstybeker toernooi behou deur die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) Maandagaand in die Tuks Stadion met 33-16 te klop.
Die Pretorianers het in die proses vyf keer gaan druk vir ’n welverdiende bonuspunt.
Hoewel die besoekers uit die Oos-Kaap eerste punte aangeteken het, was dit sommer vroeg duidelik dat Tukkies die beter span op die veld is.
Die tuisspan het geen gras onder hul voete laat groei nie en nadat die Madibaz se losskakel, Simon Bolze, binne die eerste vyf minute met ’n strafdoel geslaag het, het die manne van Tuks verwoed begin aanval. Hul gevaarlike agterlyn het gewys waartoe hulle in staat is deur skitterende breekslae en puik hantering.
Na net tien minute se spel is binnesenter Impi Visser deur ’n gaping ná ’n vaste skrum en hy kon langs die pale oorval vir die eerste drie van die wedstryd.
Nog drie minute later was dit skrumskakel Theo Maree se beurt om vanaf ’n vaste skrum te druk. Tuks het die besoekers aan flarde geskrum naby die doellyn en Maree moes net optel en oorduik.
Maree moes egter ’n paar minute later vir tien minute gaan afkoel, nadat hy sy direkte opponent met ’n gevaarlike duikslag omgedop het.
Kort voor rustyd was dit die indrukwekkende losskakel, Tinus de Beer, wat deur ’n gaping geglip het om Tuks se derde drie te druk.
Die Oos-Kapenaars het na rustyd met ’n groot terugveg poging vorendag gekom en hulle het Tuks se verdedigers soms laat skarrel. Hul voorspelers het egter nie daarin geslaag om te oorheers nie en dit het hulle van momentum beroof.
Halfpad deur die tweede helfte het Tuks hul bonuspunt drie gedruk toe die plaasvervanger heelagter, Manie Libbok, by die agterlyn aangesluit het en deurgeglip het vir sy eerste drie.
Tot die besoekers se krediet het hulle nooit gaan lê nie. Hulle het nog een keer probeer. Goeie samespel tussen voor- en agterspelers het die groot slot, Gerrit Huisamen, in staat gestel om in die hoek oor te duik.
Tuks het egter die laaste sê gehad toe Manie Libbok weer sy talent en vaardighede vertoon het met sy tweede drie, wat byna ‘n duplikaat van die eerste was.
PUNTEMAKERS:
TUKKIES: 33 Drieë: Impi Visser, Theo Maree, Tinus de Beer, Manie Libbok (2). Doelskoppe: Tinus de Beer (3), Joshua Stander (1).
MADIBAS: 16 Drieë: Gerrit Huisamen. Doelskoppe: Simon Bolze (1). Strafdoele: Simon Bolze (3).
Skeidsregter: Jaco Pretorius
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram





