Tweekamp bly gewilde familiesport
Die tweekamp seisoen bereik eersdaags weer ‘n hoogtepunt met die provinsiale- en nasionale kampioenskappe wat binnekort plaasvind.
Gauteng-Noord se tweekamp kampioenskappe vind eersdaags plaas en plaaslike administrateurs is positief dat hulle weer ’n sterk span sal kan kies op die provinsie se trotste rekord in hierdie unieke sportsoort te handhaaf.
Die span sal soos gebruiklik tydens die Paasnaweek aan die nasionale kampioenskap deelneem, wat vanjaar in die Paarl (Wes-Kaap) aangebied sal word.
Daar heers soms nog verwarring oor tweekamp, aangesien twee verskillende sportsoorte onder hierdie naam bedryf word. Tradisionele tweekamp (biathlon in Engels) is die sportsoort wat op ’n atletiekbaan en in ‘n swembad beoefen word. Die twee items word op verskillende tye, maar wel op dieselfde dag, afgehandel. Daarenteen word die moderne weergawe van tweekamp (biathle in Engels) gewoonlik in oop water en op roetes soortgelyk aan landloop beoefen, terwyl dié sport ook meer as een hardloop-item voor en ná die swemitem kan behels.
Tradisionele tweekamp word reeds dekades lank in Suid-Afrika beoefen en dit word beskou as ’n ideale gesinsport, aangesien die ouderdomsgroepe wissel van 8 jariges tot 80 jariges.
Atlete verdien punte afhangende van die tye wat hulle in die hardloop- en swemitens behaal. Die atleet was dus die beste gemiddelde punt in beide items behaal, wen die kompetisie.
Hoewel die sportsoort nie lid is van SASCOC nie en dus ook nie as Olimpiese Sport kwalifiseer nie, bly dit besonder gewild en 15 provinsiale verenigings word nog jaarliks by die nasionale kampioenskap verteenwoordig. Sowat 800 atlete neem deel aan hierdie byeenkoms. Gauteng-Noord kies gewoonlik vyf atlete per ouderdomsgroep om by die nasionale kampioenskap deel te neem.
Gauteng-Noord se span oorheers al jare die nasionale kampioenskap en volgens Charel Blignaut van Gauteng-Noord Tweekamp is daar strawwe kompetisie by die provinsiale kampioenskap. Provinsiale kleure is dus steeds gesog onder die meer as 150 plaaslike atlete wat in die verskillende ouderdomsgroepe deelneem. Blignaut het gesê die feit dat die Sportraad van Gauteng wel tradisionele tweekamp erken, versterk die sport se profiel in Pretoria. Die provinsie het die afgelope 36 jaar reeds 21 keer die nasionale kampioenskap gewen.
Die tweekamp seisoen strek jaarliks van September tot Maart/April, wanneer die nasionale kampioenskap tydens die Paasnaweek plaasvind. Deur die seisoen word daar gewoonlik vier plaaslike byeenkomste aangebied, terwyl daar ook vier keer op interprovinsiale vlak deelgeem kan word. Gauteng-Noord Tweekamp bied die meeste van hul byeenkomste aan op die atletiekbaan van die Universiteit van Pretoria en daarna by die Hillcrest swembad.
Belangstellendes kan Blignaut skakel by 084-678-1001.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
