Tuks klop hardnekkige Wits in Varsitybeker stryd
Tukkies het Maandagaand met 'n verwoede aanslag van Wits te doen gekry in die Varsitybeker toernooi, maar hulle kon uiteindelik daarin slaag om die wedstryd redelik maklik te wen.
Tukkies het hul Varsitybeker wedstryd teen ’n moedige span van Wits Maandagaand in die Tuks Stadion met 25-9 gewen.
Hoewel Tukkies weer op die wenpad gekom het ná verlede week se verrassende nederlaag teen UJ, was dit maar ’n gesukkel en die feit dat hulle nie vier drieë vir die bonuspunt kon druk nie wys in watter mate hulle sukkel-sukkel deur die wedstryd geworstel het.
Daar moet beslis ook krediet gegee word aan Wits se dapper poging. Hulle het die eerste helfte daarin geslaag om Tukkies te ontwrig deur die afbreekpunte te oorheers, terwyl hulle in die tweede helfte soos tiere verdedig het. Hierdie span is waarskynlik die verrassing van vanjaar se toernooi en hulle is beslis baie goed afgerig.
Hoewel albei spanne probeer het om met die bal te hardloop, het die wedstryd uiteindelik as skouspel misluk. Die grootste rede hiervoor is dat Tukkies, wat duidelik die beter span op die veld was, net nie uit tweede rat kon kom nie en deurgaans net te veel foute gemaak het.
Tukkies kon nie daarin slaag om ordentlik momentum op te bou nie. Hulle het die vaste fasette oorheers en herhaaldelik gevorder tot in die kwartgebied – en soms tot enkele meters van die doellyn – maar kon telkens nie afrond nie òf hulle het die bal verloor.
Om die aanklag teen Tukkies te vererger moet genoem word dat hulle die eerste tien minute en die laaste tien minute van die tweede helfte teen 14 man gespeel het, nadat eers Wits se heelagter, Luxolo Ntsepe, en later die plaasvervanger flank, Jethro de Lange, geelkaarte ontvang het vir ongeoorloofde spel.
Pote Human se span speel volgende week weer tuis teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) en ’n bonuspunt oorwinning sal ononderhandelbaar wees as hulle met die top spanne wil saamgesels in die res van die reeks.
PUNTEMAKERS:
TUKKIES: 25 Drieë: Dewald Naudé, Chris Massyn (2). Doelskoppe: Tinus de Beer (1), Josh Stander (1). Strafdoele: Tinus de Beer (2).
WITS: 09 Stafdoele: Warren Gilbert (3).
Skeidsregter: Ricus van den Heever
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




