Tuks vermorsel hulpelose SUT
Tukkies het 14 keer agter die doellyn gaan kuier in hul wedstryd teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie in die Tuks Stadion in Pretoria.
Kuikenmoord. Daar is geen ander manier waarop Tuks se reuse oorwinning van 100-0 teen die arme manne van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) Maandagaand in die Tuks Stadion beskryf kan word nie.
Pote Human se span het 14 onbeantwoorde drieë gedruk om die hondertal te bereik. In die proses het hulle ’n hele paar langafstand drieë vir 9 punte aangeteken. Volgens Varsitybeker reëls tel ’n drie 7 punte (9 as dit verdoel word) as dit volg vanaf ’n beweging wat in die span se eie gebied begin het.
Daar is vooraf verwag dat Tukkies hierdie een maklik sou wen, maar niemand was werklik voorbereid vir die skouspel van 14 eensydige drieë nie.
Tuks het direk na die afskop begin aanval en daarna nooit werklik opgehou nie. Binne die eerste vyf minute het die eerste drie gekom toe Joshua Stander oorgeduik het, nadat Tuks na albei kante toe aangeval het in die voorafgaande beweging.
Daarna het die drieë met reëlmaat elke twee tot drie minute gekom en teen die tyd dat die eerste strategiese ruskans ná 20 minute aangebreek het, was Tuks reeds 38-0 voor na ses aksiebelaaide drieë.
Die tuisspan het daarna voortgegaan en voor rustyd was die vyftigtal op die telbord ná nog twee drieë. Dít ten spyte van die feit dat die manne uit Bloemfontein hulself effens reggeruk het na die ramp wat hulle in die eerste kwart van die wedstryd beleef het.
Of die Tuks-manne se stoom begin opraak het na die vinnige pas van die eerste helfte en of die Vrystaters beter gespeel het, is moeilik om te sê. Tuks het in elk geval steeds met reëlmaat gaan druk, maar dit was tog asof hulle effens harder moes werk om in die tweede helfte oor die doellyn te kom.
Daar was selfs ’n fase kort ná die strategiese blaaskans in die tweede helfte waartydens die CUT-manne ’n rukkie lank op die Tuks doellyn geboer het. Hulle kon egter nie deurbreek nie, wat natuurlik ’n baie goeie getuigskrif vir Tuks se fokus en ingesteldheid is.
Toe die toeter blaas vir die einde was Tuks nog op 91-0 en ’n 9-punt drie was nodig vir die eerste honderdtal van die seisoen. Tuks het uit hul eie kwartgebied begin hardloop en die woelige plaasvervanger stut, Franco van den Berg, het die bal ontvang tussen die senters. Hy het ore platgetrek en met verbasende spoed afgesit doellyn toe. Geen hand kon op hom gelê word tydens sy lopie van 70 meter nie en toe Manie Libbok se doelskop deur die pale trek was die magiese 100 op die telbord.
PUNTEMAKERS:
TUKKIES: 100 Drieë: Joshua Stander, Dewald Naudé (3), Neethling Fouché, André Warner, Brian Leitch, Manie Libbok (2), Aston Fortuin, Sibahle Maxwane, Divan Rossouw, Tinus de Beer, Franco van den Berg . Doelskoppe: Josh Stander (4), Manie Libbok (6).
SUT: 00
Skeidsregter: Pro Legoete
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram


