Naka Bulle rugbyspan mik na Assupolreeks titel
Drie spanne van Naka Bulle Rugbyklub speel Saterdag teen Rustenburg Impala in die halfeindrondte van die Assupol Klubreeks.
Die Naka Bulle Rugbyklub se eerstespan het die afgelope twee weke voortgebou op hul goeie vertonings in verlede jaar se Carltonbeker kompetisie.
Met puik oorwinnings oor NWU Vaal en Roodepoort het die manne van die Moot deurgedring na eerskomende naweek se halfeindstryd in die Assupol Klubreeks. Teen Roodepoort het Naka Bulle se eerstespan met 49-8 gewen, terwyl die tweedespan (36-0) en die o.21’s (43-0) beide maalvleis gemaak het van die manne uit Johannesburg se weste.
Verlede week het Naka Bulle se drie spanne weer skoonskip gemaak met gerieflike oorwinnings oor die studente uit die Vaaldriehoek. Hierdie keer was dit die eerstespan wat nie ’n enkele punt afgestaan het nie. Hulle het NWU Vaal met 73-0 geklop. Die tweedespan was baas met 33-21, terwyl die o.21’s amok gemaak het met ’n telling van 90-12.
Al drie hierdie spanne van Naka Bulle het deurgedring na eerskomende Saterdag se halfeindstryd, waar hulle almal te staan sal kom teen die sterk klub Rustenburg Impala. Om sake vir Naka Bulle se spanne verder te bemoeilik sal hulle Rustenburg toe moet reis vir hierdie wedstryde.
Die aksie in Rustenburg begin om 13:00, wanneer die o.21 wedstryd sal afskop. Die tweedes kom om 15:00 aan die beurt, terwyl die eerstespanne mekaar om 17:00 sal pak.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram
