Quins-Bobbies ontmoet Naka Bulle in eindstryd van Assupol Klubreeks
Naka Bulle speel eerskomende Saterdag op Loftus Versfeld se B-veld teen Quins-Bobbies in die A-afdeling van die Assupol Klubreeks.
Naka Bulle en Quins-Bobbies pak mekaar eerskomende Saterdag op Loftus Versfeld in die eindstryd van die Assupol Klubreeks se A-liga, nadat hulle albei die afgelope naweek in spannende halfeindstyde betrokke was.
Die eerstespan van Naka Bulle het gewys dat hulle wil voortbou op hul goeie seisoen van verlede jaar, toe hulle vriend en vyand verras het met ’n oorwinning oor die nasionale klubkampioen in Saterdag se halfeindstryd van die Assupol Klubreeks.
In ’n uiters spannende stryd het Naka Bulle die wendrie in die doodsnikke van hul wedstryd op Rustenburg Impala se tuisveld gaan druk om met 32-30 te wen.
Naka Bulle het verlede seisoen die eindstryd van die Carltonbeker kompetisie gehaal, maar het in ’n spannende stryd net-net teen Centurion verloor. Eerskomende Saterdag se eindstryd van die Assupol Klubreeks sal dus die manne van die Moot se tweede finaal in sowat sewe maande wees.
Vir hul teenstanders in Saterdag se eindstryd, Quins-Bobbies, sal dié geleentheid ook besonders wees, aangesien die nuwe klub geskiedenis kan maak as hulle hul eerste titel kan wen net drie maande ná hul amptelike ontstaan. Quins-Bobbies rugbyklub is aan die begin van hierdie seisoen gestig nadat twee van die oudste klubs onder die jurisdiksie van die Blou Bulle, Harlequins en Pretoria Polisie, besluit het om saam te smelt. Dié nuwe klub het die Carltonbeker kampioen Saterdag in ’n ewe spannende halfeindstryd met 36-30 geklop om vir die eindstryd te kwalifiseer.
* Rustenburg Impala was beslis die gunsteling teen Naka Bulle, nadat hulle verlede seisoen weer die Gouebeker kampioenskap gewen het om daarmee as die land se beste oopklub gekroon te word. Naka Bulle het egter gewys dat hul opbouende sukses van die afgelope twee seisoene geen vloekskoot was nie en hulle het die Noordwesters veral voorlangs goed vasgevat. Naka Bulle het hul aanslag gebou op ’n puik vertoning in die vaste vasette, waar hulle veral in die skrums die manne van Impala harde bene laat kou het.
Die verskil tussen die twee spanne was uiteindelik een doelskop, nadat albei vier keer gaan druk het en ook twee strafdoele oorgeskop het. Twee van Naka Bulle se drieë is gedruk deur hul sterk vleuel, Marcel Human, terwyl Jean van der Westhuizen (slot) en Gerhard du Preez (flank) ook elkeen eenkeer agter die doellyn gekuier het.
Dillen du Buisson, wat die eerste keer as losskakel in die beginspan was, het een drie verdoel en twee strafdoele bygevoeg, terwyl Jean Grobler met twee moeilike doelskoppe geslaag het. Die laaste doelskop was onder groot druk in die doodsnikke van die wedstryd, maar Grobler het kalm gebly en die oorwinning beklink.
* Op Centurion se veld het daar terselfdertyd ook groot drama geheers in die ander halfeindstryd. Nadat Quins-Bobbies die wedstryd op ’n stewige galop begin het met twee drieë deur Morné Hugo en Riaan van der Berg in die eerste kwartier, het die Carltonbeker kampioene stadig maar seker terug gekom in die wedstryd. Hulle het voor rustyd self twee keer gaan druk toe Christiaan Burger en JP du Plessis onderskeidelik oor die doellyn is. Danksy ’n strafdoel deur losskakel Stephen Moir kon die tuisspan teen rustyd 17-14 voorloop.
Nog ’n strafdoel deur Moir en ’n drie deur Kurtley Brinkhuys vroeg in die tweede helfte het Centurion gerieflik met 27-14 laat voorloop, maar Quins-Bobbies se manne was nog lank nie klaar nie. Twee onverdoelde drieë deur die hardwerkende haker, Johan Pieterse en die puik baljagter-flank, Ian van Deventer, het die span uit Groenkloof weer teruggebring in die prentjie. Toe hul reserwe agtsteman, JP Nel, twee minute voor die eindfluitjie hul vyfde drie gaan druk, het die spanning ondraaglik geword. Die doelskop was egter mis en met die telling op 30-29 in Centurion se guns wou dit lyk of die tuisspan sou deurskraap.
’n Oortreding deur Centurion se haker in die doelgebied nádat Nel gedruk het, het die skeidsregter oortuig om hom met ’n geel kaart af te stuur. Toe Centurion na die afskop ’n aanvallende skrum reg voor die pale in QuinsBobbies se kwartgebied kry, wou dit lyk of hulle net die bal moes wen en uitskop om die wedstryd te beklink. QuinsBobbies het die afwesigheid van die tuisspan se eerstekeuse haker egter uitgebuit en ’n vaskop gehaak. Die bal is langs die lyn af en toe die blitsige linkervleuel, Jacques Erasmus sy man klop, was daar groot probleme vir Centurion. Erasmus het netjies na binne geswenk en nog ’n verdediger geklop om die wendrie onder die pale te gaan druk. Die doelskop het die eindtelling op 36-30 in die guns van QuinsBobbies te staan laat kom.
Saterdag sal al die eindstryde van die Assupol Klubreeks op Loftus Versfeld se B- en C-velde beslis word. Die eerstepanne, tweedespanne en o.21’s van al drie afdelings (A-, B- en C-ligas) sal plaasvind met die A-afdeling eindstryd tussen die eerstespanne van Naka Bulle en QuinsBobbies as die hoogtepunt van die dag.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram


