Local sportSport

Bulls klop Sunwolves, maar oortuig nie

Die Bulls se sukkel-oorwinning teen die Sunwolves op Loftus Versfeld sou nie eers hul getrouste ondersteuners oortuig het dat hierdie span vanjaar ’n faktor sal wees in die SuperRugby toernooi nie.

Die Bulls se selfvertroue het ’n verdere knou gekry kort voor hul toer na Nieu-Seeland, ten spyte van die feit dat hulle die Sunwolves Vrydagaand op Loftus Versfeld met 34-21 gewen het.

Slordige spel wat die byna 10000 ondersteuners op Loftus Versfeld waarskynlik tweekeer sal laat dink voordat hulle terugkeer vir die Bulls se volgende wedstryd op hul tuisveld, het veroorsaak dat Handré Pollard en sy manne nooit werklik aan die gang kon kom nie.

Die Bulls het verroes gelyk. Daar was oomblikke om oor opgewonde te raak, maar ’n gesukkel in die skrums en te veel hanteerfoute het die tuisspan weer van baie momentum beroof.

Dit was veral die Bulls se vertoning in die skrums wat weer in daardie eerste veertig minute ’n slegte smaak in die mond van getroue ondersteuners gelaat het. By een geleentheid is die Bulls selfs meters ver teruggedruk, terwyl hulle nooit werklik ’n ordentlike regterskouer kon inkry vanwaar daar spasie geskep kon word deur die agterspelers nie.

Jan Serfontein se drie na net 10 minute se spel was ’n gelukskoot wat gekom het van ’n aanslaan deur een van die Sunwolves se spelers tien meter van die manne in Blou se doellyn af. Daarna het die Bulls een keer goed gedryf vanaf ’n lynstaan sodat Pierre Schoeman kon afrond, maar dit was die somtotaal van die hoogtepunte in die eerste helfte,

’n Terugslag het die Bulls vroeg in die tweede helfte getref toe Renaldo Bothma met ’n rooikaart afgestuur is kort na die afskop. Hy het die besoekers se kaptein, Edward Quirk, met ’n styfwe arm getref en volgens die nuwe protokolle in hierdie situasies het die skeidsregter en die TV skeidsregter geen ander keuse gehad as om Bothma kleedkamer toe te stuur nie.

Hoewel die Bulls effens beter geskrum het nadat Lizo Gqoboka en Jacobie Adriaanse vir Pierre Schoeman en Trevor Nyakane vervang het, het hulle steeds gesukkel met sewe man teen agt.

Serfontein, wie se spel een van die min ligpunte in die wedstryd was, se tweede drie het die hoop laat opvlam dat die Bulls ten minste ’n bonuspunt oorwinning sou kry, maar die Sunwolves het in die laaste tien minute teruggeveg. Hulle het twee keer gaan druk en hoewel die tweede drie gekanseleer is, kon die Bulls nie aan die vereistes vir ’n bonuspunt voldoen nie.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 34 Drieë: Jan Serfontein (2), Pierre Schoeman, Jason Jenkins. Doelskoppe: Handré Pollard (3), Tian Schoeman (1). Strafdoele: Handré Pollard (1), Tian Schoeman (1).

SUNWOLVES: 21 Drieë: Kenki Fukuoka, Edward Quirk. Jumpei Ogura (1). Strafdoele: Hayden Cripps (3).

Skeidsregter: James Nutbrown

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button