Local sportSport

Naka Bulle is Assupol Klubreeks kampioen

Die Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het Saterdag geskiedenis gemaak deur die eerste keer in dié klub se twintigjarige bestaan ’n belangrike toernooi te wen.

Die Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het Saterdag op Loftus Versfeld hul eerste groot toernooi in die twintigjarige bestaan van dié klub gewen toe hulle Quins-Bobbies met 38-25 in die eindstryd van die Assupol Klubreeks geklop het.

Dit was ’n welverdiende oorwinning vir die manne van die Moot, wat vyf keer gaan druk het teenoor Quins-Bobbies se drie drieë. Naka Bulle het ’n groot deel van die wedstryd oorheers, maar die span van Nico Luus was waardige teenstanders wat enduit geveg het. Hulle het trouens sterker as Naka Bulle geëindig en die nuwe kampioene moes veral in die laaste twintig minute hul keer ken om hul teenstanders van die doellyn weg te hou.

Naka Bulle het baie goed begin en was ongelukkig om nie binne die eerste paar minute punte aan te teken nie. ’n Hanteerfout by die doellyn het hulle egter tydelik verhoed om hul rekening op die telbord te open. Hulle kon wel daarin slaag om in beide helftes eerste punte aan te teken, wat uiteindelik ’n verskil gemaak het.

Hoewel die wedstryd klipharde rugby opgelewer het en die kwaliteit van die liga onderstreep het, was dit ’n baie opwindende kragmeting, soos die agt drieë tussen die twee spanne getuig.

Onder leiding van die inspirerende leierskap van hul kaptein en loskop stut, Sylvester Booysen, is die grondslag van Naka Bulle se sukses deur hul stewige pak voorspelers gelê. Hul uitstaande vaste vyf is goed aangevul deur puik spel van hul lostrio, waar veral die twee flanke, Gerhard du Preez en Luga van Biljon, hul harte uitgespeel het.

Die wenspan se jong senter, Jean Grobler, is as man van die wedstryd aangewys.

Vir Quins-Bobbies het hul puik haker, Johan Pieterse, slot Divan Steenekamp, die woelige flank, André Potgieter en buitesenter Willie Odendaal die oog gevang. Die blitsige linkervleuel, Jacques Erasmus, het ook oudergewoonte weer uitgeblink met twee drieë.

*  Die Quins-Bobbies klub is nie met leë hande huis toe nie. Hul tweedes het Rustenburg Impala met 25-3 verslaan in die eindstryd vir tweedespanne. In die o.21 eindstryd van die A-liga het UJ ’n spannende wedstryd teen Naka Bulle se juniors met 34-32 gewen.

* Die Northam Rhinos van Limpopo het die B-liga gewen toe hulle Potgietersrus met 19-8 geklop het en in die C-liga is Hartbeespoort as kampioene gekroon. Hulle was met 29-13 baas teen Bronkhorstspruit.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button