Local sportSport

Tuks dring deur na Varsitybeker finaal met oorwinning oor Shimlas

Tukkies is vir die eerste keer sedert 2013 weer in die eindstryd van die Varsitybeker toernooi na hul oorwinning oor die Shimlas Maandagaand in die halfeindstryd in Pretoria.

Dit was moeiliker as wat die meeste ondersteuners verwag het, maar Tukkies het Maandagaand genoeg gedoen om deur te dring na die eindstryd van die Varsitybeker deur Shimlas in die halfeindstryd met 28-21 te klop.

Soos te wagte het die Vrystaters van die afskop af met mening ingeklim en Tukkies onder druk probeer plaas. Hoewel die tuisspan ’n paar benoude oomblikke beleef het, het hulle nooit paniekerig geraak nie. Hulle het die een aanslag na die ander afgeweer en selfs toe die Shimlas die tempo probeer opjaag, het André Warner en sy manne eenvoudig daarby aangepas en die besoekers tot foute gedwing.

Tukkies het op hierdie foute begin teer en met vinnige teenaanvalle vorendag gekom. Die gevolg was dat Tukkies die eerste drie kon gaan druk na sowat 12 minute se spel. Tuks se wakker losskakel, Tinus de Beer, het die verdediging oorhoops gevang en nadat hy deur die gaping is, het hy Sibahle Maxwane oorgestuur om te druk.

Tuks se tweede drie was ’n juweel, waarmee De Beer gewys het hoe goed hy deesdae is. Hy het skitterend gebreek, spasie geskep deur verdedigers te trek en Maxwane weggestuur vir ’n sewepunt-drie.

André Waner het daarna ’n skitterende beweging begin, wat hy uiteindelik self afgerond het vir Tuks se derde drie.

Die tuisspan was op pad na hul vierde drie voor rustyd, toe De Beer nie ’n swak aangee kon bemeester nie. Die bal het los gespat en Shimlas het met ’n teenaanval begin. Dit het 80 meter verder uitgeloop op ’n drie vir die woelige flank, Phumzile Maqondwane.

Die rustydtelling was dus 23-9, met Tukkies stewig in beheer van sake teen daardie tyd.

Die besoekers was egter nog lank nie gereed om oor te gee nie. Hulle het die tweede helfte weer met mening begin en hierdie keer het hulle meer sukses behaal in hul poging om Tukkies op die agtervoet te hou.

Dit was veral Shimlas se voorspelers wat daarin kon slaag om ’n greep op die spel te kry. Hul losvoorspelers was puik by die afbreekpunte en met kragspel het hulle twee keer gaan druk om die punteverskil byna uit te wis. Halfpad deur die tweede helfte was daar net twee punte verskil tussen die twee spanne en die Vrystaters se sterte was in die lug.

Tuks kon egter in die laaste twintig minute terugslaan met hul enigste punte van die tweede helfte toe haker Corniel Els oorgedryf het vanaf ’n aanvallende lynstaan. Dit was genoeg om die voorsprong na sewe punte te rek en Tukkies kon daaraan vasklou tot die einde.

Pote Human en sy bestuur sal egter hierdie wedstryd as ’n riglyn moet gebruik om baie swakplekke reg te dokter voor die eindstryd op 17 April.

 

PUNTEMAKERS:

TUKKIES: 28 Drieë: Sibahle Maxwane (2), André Warner, Corniel Els. Doelskoppe: Tinus de Beer (3),

SHIMLAS: 21  Drieë: Phumzile Maqondwane, Hanno Snyman, Niel Claassen. Doelskoppe: Marco Mason. (2)

Skeidsregter: Vusi Msibi

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button