Broer en suster ryg medaljes in by Afrika skerm-kampioenskap
Die Besters van Centurion het groot sukses behaal op die onlangse Afrika skerm-kampioenskap.
Twee tieners van Centurion het pas teruggekeer uit die Ivoorkus, waar hulle met groot sukses aan die Afrika skerm-kampioenskap deelgeneem het.
Natania Bester (17) en haar jonger broer Christiaan (15) is tuisskool leerlinge. Toe hulle ’n paar jaar gelede op soek was na ’n sportsoort om hul sosiale bedrywighede uit te brei, het hul pa voorgestel dat hulle skerm op die proef stel, nadat hy ’n radiopraatjie daaroor gehoor het. Niell Bester het veral dié sport in die oog gehad vir Christiaan, wat van kleintyd af ’n voorliefde vir swaarde en swaardgevegte gehad het.
Niell het die universiteit van Pretoria se skermklub gekontak en kort voor lank was die twee jong Besters betrokke. Dié broer en suster het ook sommer gou begin presteer en hulle het die medaljes begin inryg op byeenkomste regoor Suid-Afrika. Intussen het albei junior nasionale kleure verwerf in dié sport. Natania het Suid-Afrika by die wêreld kampioenskap in Frankryk verteenwoordig in 2015, terwyl albei daardie jaar ook aan die Junior Statebond kampioenskap in Kaapstad deelgeneem het.
Om vir die Afrika kampioenskappe te kwalifiseer moet ’n deelnemer onder die top drie in sy ouderdomsgroep tel. Hierdie ranglys word bepaal deur deelname aan die vyf nasionale kompetisies wat jaarliks aangebied word.
Volgens die reëls van skerm word daar net in sekere ouderdomsgroepe deelgeneem, wat beteken dat die Besters gewoond geraak het daaraan om teen heelwat ouer teenstanders te skerm. Natania was byvoorbeeld in 2015 nog o.16, maar sy het by die wêreldkampioenskap in Frankryk in die o.17 kategorie gekompeteer.
Daar is drie verskillende “style” in die sport en die wapens wat gebruik word verskil in elke styl. Die Besters neem hoofsaaklik deel aan die afdelings waar florette en skermdegens gebruik word.
By die Afrika kampioenskappe het die Besters gekwalifiseer om in beide die kategorieë vir kadette en juniors deel te neem.
Christiaan het as 15-jarige aan die die afdeling vir o.17’s deelgeneem. Hy het as o.17 deelnemer ’n goue medalje gewen in die degen-afdeling, terwyl hy brons gewen het met die floret in die hand. Hy het ook saam met die o.20 manne aan die degen-afdeling deelgeneem en daar het hy ’n silwer medalje gewen.
Natania het die brons medalje gewen in die degen afdeling vir meiseis o.17, terwyl sy goud verdien het in dieselfde afdeling vir dames o.20 en dus as junior Afrika kampioen gekroon is.
Die Besters het albei gekwalifiseer om vanjaar deel te neem aan die wêreld kampioenskap in Bulgarye, maar weens ’n gebrek aan borge kon hulle dit nie so kort na die Afrika kampioenskap bybring nie. Hulle droom egter albei van deelname aan die volgende Olimpiese Spele in Japan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

