Local sportSport

Bulls klop omgekrapte Jaguares in klipharde stryd

Die beleërde Bulls het daarin geslaag om na hul rampspoedige toer weer op die wenpad te kom toe hulle die Jaguares van Suid-Amerika in ’n klipharde stryd op Loftus Versfeld geklop het.

Die Bulls is terug op die wenpad, nadat hulle die gevaarlike Jaguares van Argentinië Saterdagaand op Loftus Versfeld met 26-13 geklop het.

Na ’n moelike week waar daar op verskeie fronte indringende gesprekke op Loftus Versfeld plaasgevind het, was dit te wagte dat die Bulls hierdie wedstryd met meer toewyding en drif sou aanpak.

Toe Adriaan Strauss en sy manne op die veld draf was dit sommer aan hul lyftaal duidelik dat hulle geestelik ingestel was op ’n wedstryd waarin hulle nie net hul eie eer nie, maar ook die eer van hul unie moes verdedig en die respek van hul ondersteuners moes terugwen.

Die Bulls het sommer van die begin af met mening ingeklim en hulle het die besoekers waarskynlik verras met hul intensiteit in al die fasette. Toeskouers se oë het gerek toe die tuisspan die Jaguares by die eerste skrum van die bal af stoot, want hierdie Suid-Amerikaansers is bekend vir hul goeie skrumwerk.

Hoewel die Bulls met ’n positiewe ingesteldheid gespeel het, was daar weer haakplekke wat hulle verhoed het om teen rustyd reeds ten minste vier drië te kon druk. Hulle het by verskeie geleenthede tot kort voor die doellyn gevorder, maar dan weer balbesit verloor – een van die kwale wat hulle tot dusver hierdie seisoen teister.

Uiteindelik kon die Bulls net een keer druk in die eerste helfte en teen rustyd was hulle met 13-3 voor.

Die manne uit Argentinië was egter nog lank nie bereid om boedel oor te gee nie. Hulle het met nuwe geesdrif terug gekom in die tweede helfte en spel vir sowat 20 minute lank oorheers. In hierdie tydperk kon die Bulls eenvoudig nie daarin slaag om die bal in die hande te kry nie en hulle moes walgooi vir al wat hulle werd was, want die Jaguares het verwoed aangeval.

Die Bulls moet krediet kry vir hul hardnekkige verdediging, want met die oorvloed balbesit wat die Suid-Amerikaners in die tweede helfte gehad het, kon hulle net een keer gaan druk.

In die laaste tien minute het die Bulls daarin geslaag om weer op die aanval te kom en Lood de Jager se drie, wat sy span se tweede was, het die oorwinning vir die beleërde manne in blou verseël.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 26 Drieë: Travis Ismaiel, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Handré Pollard (4).

JAGUARES: 13 Drieë: Gonzalo Bertranau. Doelskoppe: Santiago Iglesias (1). Strafdoele: Santiago Iglesias (2).

Skeidsregter: Ben O’Keeffe

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button