Local sportSport

Bulls behaal sukkel-oorwinning teen Cheetahs

Dit het broekskeur gegaan, maar die Bulls het Saterdagaand ’n uiters belangrike oorwinning teen die Cheetahs op Loftus Versfeld behaal.

Die Bulls het Saterdagaand op Loftus Versfeld hul derde oorwinning van die SuperRugby seisoen behaal deur die Cheeaths in ’n slordige wedstryd met 20-14 te klop.

Dit was die stryd van die desperate spanne, want beide die Bulls en die Cheetahs is onder druk op die punteleer.

Beide spanne het van die afskop af gewys dat hulle positiewe rugby wil speel, maar ongelukkig kon nie een van die twee spanne weens slordige spel ooit werklik uit derde rat kom nie. Die Cheetahs het in die eerste helfte tog gevaarliker gelyk as hulle aangeval het.

Die Bulls het die Vrystaters aangevat sonder enige erkende baljagter in hul groep en dié waagstuk het hulle sommer vroeg ingehaal toe die besoekers na net vyf minute besit omgekeer het en ’n lynstaan naby die doellyn afgedwing het. Die voorspelbare dryfbeweging het gevolg en Tier Schoeman kon sy span se rekening open met ’n drie.

Hierna het die Bulls effens herstel en tot rustyd het hulle die meerderheid van die aanvalswerk gedoen, maar soos die geval die heel seisoen al is, kon hulle net nie die nodige gapings vind of momentum opbou nie.

Om alles te kroon het die tuisspan geknor in die skrums en dit was veral Jacobie Adriaanse wat die slegste afgekom het van sy tweestryd met Charles Marais.

Die res van die eerste helfte se punte het gekom van strafdoele deur Tian Schoeman en Niel Marais en die Vrystaters was teen rustyd met 11-3 voor.

Foute, foute en nogmaals foute. Dít is hoe beide spanne se spel in die tweede helfte kortliks opgesom kan word. Nie een van die twee spanne kon daarin slaag om ordentlike momentum op te bou nie, want slordige spel en ’n horde hanteerfoute was aan die orde van die dag.

Die Bulls het volop geleenthede gehad, maar hulle kon steeds nie die grootste kwaal afskud wat hulle die heel seisoen al teister nie. Net sodra dit lyk of hulle momentum opbou, het iemand die bal aangeslaan of hulle het besit by die afbreekpunte verloor.

Uiteindelik was dit die Bulls se agterlyn wat een beweging reg kon uitvoer en toe Jamba Ulengo deur ’n halwe gaping glip, kon hy na Burger Odendaal uitgee, wat spasie gevind het aan die linkerkant. Odendaal kon op sy beurt vir Jesse Kriel wegstuur vir die wendrie.

Die Bulls het in die doodsnikke ’n paar benoude oomblikke beleef, maar hulle kon vasbyt en die uiters belangrike oorwinning beklink.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 20 Drieë: Jacques Potgieter, Jesse Kriel. Doelskoppe: Tian Schoeman (2). Strafdoele: Tian Schoeman (2).

CHEETAHS: 14 Drieë: Tier Schoeman. Strafdoele: Niel Marais (3).

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button