Blou Bulle kry vyftigtal teen Goue Leeus
Die Blou Bulle het die Goue Leeus Saterdag op Loftus Versfeld maklik met opwindende hardlooprugby geklop.
Die Blou Bulle het Saterdag agt keer agter die doellyn gaan kuier en sodoende hul Curriebeker wedstryd teen die Goue Leeus op Loftus Versfeld met 54-22 gewen.
Boom Prinsloo en sy manne het die wedstryd teen ’n verbysterende tempo begin en na net tien minute was hulle reeds 21-0 voor. Piet van Zyl het drie minute na die afskop reeds oorgeduik vir die eerste drie, waarna die jong slot Ruben van Heerden en losskakel Tony Jantjies ook gaan druk het.
Na hierdie aanvanklike blitzkrieg het dit gelyk of die Blou Bulle gedink het die wedstryd is verby en die manne van Johannesburg het hul kans gebruik om tot verhaal te kom. Dít het hulle besonder goed gedoen, want vir die volgende twintig minute het die Goue Leeus die spel oorheers.
Die Leeus se aanslag is vergemaklik deur ’n paar twyfelagtige beslissings van die skeidsregter, wat aan Ryan Kankowski en sy makkers die geleentheid gegee het om momentum te bou. Egon Seconds het nie ’n goeie wedstryd met die fluitjie beleef nie. Twee van die drie geelkaarte wat hy aan die Blou Bulle uitgedeel het, was erg verdag, terwyl hy sy bes probeer het om ’n skouspel van goeie hardlooprugby te bederf.
In hierdie tydperk het die Goue Leeus self drie keer gaan druk, maar losskakel Shaun Reynolds kon nie een van die drieë verdoel nie.
Kort voor rustyd het die Blou Bulle weer tot verhaal gekom nadat Irne Herbst en Jan-Hendrik Campher terug was op die veld. Die twee manne se geelkaarte het oorvleuel en die Leeus se aanslag is dus vergemaklik deur ’n tydperk waartydens hulle teen net 13 manne moes speel. Burger Odendaal se drie het egter die rustydtelling op 28-18 te staan laat kom.
Na rustyd het die Blou Bulle vroeg weer gevaarlik gelyk en Boom Prinsloo het in die hoek oorgegaan na enkele minute se spel.
Stokkies Hanekom se drie vir die Goue Leeus was die besoekers van anderkant die Jukskeirivier se laaste punte en daarna was dit basies eenrigting verkeer vir die tuisspan.
Drieë deur Travis Ismaiel, Warrick Gelant en Pierre Schoeman het die Blou Bulle se vyftigtal op die telbord laat verskyn.
Daar was baie foute en dit sal nog ’n rukkie vat voor Nollis Marais se Curriebeker span werklik as ’n eenheid gaan funksioneer. As hulle egter kan aanhou wen in vanjaar se Curriebeker reeks en steeds die aanskoulike rugby speel wat hulle Saterdagaand op Loftus Versfeld uitgestal het, sal die toekoms weer beter begin lyk vir die eens gevreeste Manne in Blou.
PUNTEMAKERS:
BLUE BULLS: 47 Drieë: Piet van Zyl, Ruben van Heerden, Tony Jantjies, Burger Odendaal, Boom Prinsloo, Travis Ismaiel, Warrick Gelant, Pierre Schoeman. Doelskoppe: Tony Jantjies (5), JT Jackson (1), Tinus de Beer (1).
LIONS: 22 Drieë: Aphiwe Dyantyl (2), Andrew Beerwinkel, Stokkies Hanekom. Doelskoppe: Shaun Reynolds (1).
Skeidsregter: Egon Seconds
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.






