Local sportSport

Johnny Reitz Big Five lok weer Suid-Afrika se beste stoeiers

Gauteng-Noord Stoei het Saterdag hulde gebring aan vroue in dié sport by die Johnny Reitz Big Five stoeitoernooi.

Die Johnny Reitz Big Five Stoeitoernooi is na baie jare steeds een van die grootste en gewildste toernooie vir amateurstoeiers van alle ouderdomme in Suid-Afrika.

Die afgelope naweek was geen uitsondering nie en die Rembrandt-saal op Tukkies se sportkampus was van vroeg Saterdagoggend reeds volgepak met die room van Suid-Afrika se stoeigemeenskap, wat van regoor die land ingeskryf het vir dié besondere toernooi.  Hoewel die meeste gevegte soos gewoonlik in die Vrystyl afdeling plaasgevind het, was daar ook gevegte in die Grieks-Romeinse styl.

Die toernooi is jaarliks een van die groot gebeure op die stoeikalender van Noord-Gauteng Stoei, wat vir die aanbieding daarvan verantwoordelik is. Sowat 480 stoeiers van alle ouderdomme en afkomstig uit 45 klubs vanoor die hele land het Saterdag na Pretoria opgeruk vir hierdie toernooi. Ses stoeimatte is in dié sportsaal by Tukkies beskikbaar gestel vir die aksie en dit verg dus fyn beplanning en goeie organisasie om die toernooi seepglad te laat verloop, want daar het byna regdeur die dag ses stoeigevegte gelyktydig plaasgevind.

Soos die naam van die toernooi aandui, kry al die presteerders by die Johnny Reitz Big Five toernooi ’n medalje met die afbeelding van een van Suid-Afrika se Groot Vyf wildsoorte agterop. Vanjaar het die Luiperd aan die beurt gekom. Weens die status van hierdie toernooi bly dit uiteraard die droom van elke stoeier om ’n volledige stel medaljes met al vyf die wildsoorte agterop te versamel. Daarvoor moet ’n stoeier dus vyf jaar agtereenvolgens presteer.

Amateurstoei groei ook deesdae besonder snel as voorkeursport onder meisies en jong dames. Die Johnny Reitz Big Five is geen uitsondering wat hierdie tendens betref nie en elke jaar neem meer meisies deel aan die aksie. Met die klem op vroue in Augustusmaand in Suid-Afrika het Noord-Gauteng Stoei besluit om vanjaar ook aan die vroue in Suid-Afrikaanse stoeigeledere hulde te bring tydens die Johnny Reitz Big Five toernooi. Die openingseremonie by Saterdag se toernooi is dus volledig deur vroue waargeneem.

Een van die interessante verskynsels wat gepaard gaan met die groeiende vrouegetalle in stoei is die feit dat gevegte tussen seuns en meisies tot op die ouderdom van 8 jaar wel plaasvind. Daar is wetenskaplik bewys dat seuns en meisies se fisieke ontwikkeling tot op daardie stadium baie dieselfde is en daarom kan hulle op gelyke voet meeding.  Dit was dus nie vreemd om by die Johnny Reitz Big Five toernooi ook jong meisies te sien wat hul teenstanders van die teenoorgestelde geslag harde bene laat kou op die stoeimat nie.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button