Local sportSport

Pretoria skoolmeisie wen brons met haar vuiste

Sy was voorheen ’n model, maar deesdae maak ’n skoolmeisie van Pretoria naam deur die manier waarop sy teenstanders in die bokskryt oorrompel.

Hoewel Mckeyla Koortzen op die oog af klein en fyn mag voorkom as ’n mens haar ontmoet, moet jy maar ligloop om dié aanvallige jong dame verkeerd op te vryf.

Koortzen weet immers hoe om haar vuiste te gebruik. Daarvan getuig haar prestasies in die bokskryt en die bronsmedalje wat sy onlangs by die Suid-Afrikaanse amateur bokskampioenskap in die Oos-Kaap gewen het.

Om bokshandskoene aan te trek en in die gimnasium te sweet teen ’n slaansak is lankal nie meer ’n vreemde ding vir die skoner geslag nie. Dis immers een van die jongste modes in die fiksheidsbedryf. Maar om met daardie selfde handskoene tussen die toue van ’n bokskryt te klim en jou vuiste teen ’n teenstander in te span, is nie iets waarvoor baie vroue die moed het nie.

Vir die 19-jarige Koortzen is dit egter soos tweede natuur om haar teenstanders met die vuiste by te kom. Haar pa was ’n kranige bokser op sy dag en Koortzen het as laerskoolmeisie reeds verlief geraak op die sport. Sy het egter eers in 2013 self aan die sport begin deelneem toe sy haar hoërskool loopbaan by HTS Tuine begin het.

Intussen het sy Gauteng-Noord kleure as bokser verwerf en sy word as een van Suid-Afrika se opwindendste vroueboksers in haar gewigsafdeling beskou. Daarvan getuig die feit dat sy ook al gevra is om in vertoongevegte op te tree tydens bokstoernooie.

Koortzen steur haar nie aan die kritiek van mense wat glo vrouens hoort nie in ’n bokskryt nie. Sy was vroeër ook ’n model en glo nie dat haar vroulikheid in gedrang kom met die keuse van haar gunsteling sportsoort nie. Boks is egter nie die enigste sport waaraan sy deelneem nie en sy presteer ook op die netbalbaan en as middelafstand atleet.

Op skool staan sy uit as leier en sy is vanjaar ’n lid van HTS Tuine se Verteenwoordigende Leerderraad (VLR).

Ná skool wil Koortzen haar vir ’n paar jaar ernstig toespits op haar boksloopbaan, maar sy sien dit egter nie as ’n beroepskeuse nie. Sy hou daarvan om met mense te werk en wil graag in die sielkunde studeer om hierdie passie in haar beroepslewe uit te leef.

 

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button