Cheetahs klop Blou Bulle in wedstryd vol opwinding én spanning
Die Blou Bulle het hul derde nederlaag in die Curriebeker toernooi gely toe die Cheetahs hulle op Loftus Versfeld gekop het in ’n opwindende wedstyrd wat elf drieë opgelewer het.
Die Vrystaat Cheetahs het die Blou Bulle op Loftus Versfeld met 41-40 geklop in ’n Curriebeker wedstryd wat tegelyk as opwindend en effens bisar beskryf kan word.
Linkervleuel Makazole Mapimpi het die wendrie vir die Vrystaters in die 84ste minuut van die wedstryd gedruk, nadat die telling veral in die tweede helfte wiplank gery het.
Hoewel die koue en winderige weer in Pretoria sekerlik nie ideaal was vir ’n rugbywedstryd nie, was dit tog vooraf te wagte dat die twee spanne sprankelrugby sou oplewer. Die Cheetahs is immers tradisioneel ’n span wat daarvan hou om die bal rond te gooi, terwyl die Blou Bulle sedert die begin van die Curriebeker toernooi self nie skaam is om hardlooprugby te speel nie.
Dit was ook ’n wedstryd van verspeelde kanse, waarin twee maklike doelskoppe van Tony Jantjies deur spelers van die Cheetahs afgestorm is, terwyl Clayton Blommetjies ook ’n doelskop reg oor die pale skouspelagtig verbrou het.
Nadat Jantjies die telbord aan die gang gekry het met ’n stradoel vroeg in die wedstryd was dit die Bulle wat eerste bloed geruik het met ’n puik drie deur Dries Swanepoel, ná goeie spel deur Warrick Gelant.
Daarna het die besoekers twee keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Jantjies self oor is vir die Blou Bulle se tweede drie. Twee strafdoele deur Jantjies het die Blou Bulle met 21-17 laat voorloop teen rustyd.
Slegs een minuut na die afskop vir die begin van die tweede helfte was Mapimpi oor vir sy tweede drie en nóg twee minute later het sy kaptein, Francois Venter, die Cheetahs se voorsprong laat rek met nog ’n besoek aan die doelgebied ná swak verdediging deur die Bulle.
Burger Odendaal en sy manne het egter teruggeveg. Twee drieë deur Jamba Ulengo en een deur Warrick Gelant het die Blou Bulle weer laat voorloop.
Toe Sergeal Petersen oorduik vir die Cheetahs se vyfde drie met ses minute speeltyd oor, was dit duidelik dat die einde spannend sou wees.
Die Bulle was in beheer van spel met 30 sekondes speeltyd oor, maar hulle het verkies om te dobbel deur tyd te probeer steel met dryfspel in hul eie kwartgebied. Die Cheetahs het egter besit omgekeer en met die Bulle onder druk het skeidsregter Marius van der Westuizen se arm aanhou uitskiet vir strafskoppe wat aan die besoekers die kans gegee het om drie keer ná normale speeltyd met lynstaan-dryfspel oor die doellyn te probeer kom. Na die derde poging het hulle die bal wyd gespeel en Mapimpi kon sy driekuns voltooi vir die wenpunte.
Dit was die Blou Bulle se tweede tuisnederlaag in die toernooi na slegs vyf wedstryde en Nollis Marais het na die wedstryd gesê hulle aanvaar dat hulle nou belangrike wedstryde weg van die huis sal moet wen om gunstig op die punteleer te eindig.
PUNTEMAKERS:
BLUE BULLS: 40 Drieë: Dries Swanepoel, Tony Jantjies, Jamba Ulengo (2), Warrick Gelant. Doelskoppe: Tony Jantjies (2), Josh Stander (1). Strafdoele: Tony Jantjies (3)
CHEETAHS: 41 Drieë: Makazole Mapimpi (3), Jasper Wiese, Francois Venter, Sergeal Petersen. Doelskoppe: Ryno Eksteen (4). Strafdoele: Ryno Eksteen (1)
Skeidsregter: Marius van der Westhuizen
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





