Local sportSport

Presteer of sink – dís die eenvoudige realiteit vir die Bulls

Die Bulls het Saterdag in hul eerste twee opwarmingswedstryde vir die SuperRugby reeks bittermin gedoen om ondersteuners opgewonde te maak oor die lewensbelangrike seisoen wat vir die Blou Bulle Rugby-unie voorlê.

Vir die eens magtige Blou Bulle sal 2018 ongetwyfeld ‘n waterskeidingsjaar wees. Die afgelope naweek se eerste opwarmingswedstryde vir die SuperRugby toernooi het egter nie baie ondersteuners oortuig dat die Bulls se sukseskurwe vanjaar opwaarts sal neig nie.

Daar kan nie twyfel wees dat die Bulle onder geen omstandighede nóg ‘n seisoen van verloorrugby op die veld en krisisbestuur van die veld af sal oorleef nie. Daarom het baie ondersteuners se seisoen op ’n pesimistiese noot begin toe die Bulls die afgelope Saterdag in oefenwedstryde met 22-67 teen die Leeus en 14-31 teen die Sharks verloor het.

Ter versagting vir Saterdag se uitslae moet darem genoem word dat baie eerstekeuse spelers en al die Springbokke wat verlede jaar in Europa getoer het, nie vir die wedstryde oorweeg is nie. Die geskiedenis het ook al geleer dat opwarmingswedstryde se uitslae misleidend kan wees.

Die laaste deel van verlede seisoen se Curriebeker reeks het sommige Bulls ondersteuners hoop gegee dat die nuwe besem op Loftus Versfeld, John Mitchell, die skip sal kan omdraai en dinge sal regruk. Maar duisende geharde ondersteuners het tydens die bekerdroogte van die afgelope sewe jaar al hoe meer skepties geraak oor die wyse waarop dinge deesdae op Loftus gedoen word en húlle neem ’n “sien-is-glo” houding in.

Mitchell se verlede en reputasie word gereeld voorgehou as rooi ligte wat flikker. Baie skeptici sal gou wees om daarop te wys dat dié Kiwi sedert sy dae as All Black afrigter (2001-2003) nog nooit ’n kontrak voltooi het nie. Noem maar op: All Blacks, Western Force, Leeus, Sale Sharks en Amerika se Eagles. By elkeen van hierdie spanne is hy weg voor die einde van sy kontrak. By spanne soos die All Blacks, Sale Sharks, Western Force en Leeus is hy elke keer onder ’n wolk van omstredenheid vort.

Verlede week se aankondiging van die SuperRugby groep vir 2018 het heelwat wenkbroue laat lig, terwyl ander weer glo dat die weglating van gevestigde spelers en ander uitblinkers ’n bewys is dat Mitchell net in prestasie en toewyding belangstel. Daar word ook geglo dat hy broodnodige dissipline en werksetiek sal hervestig op Loftus.

Tog glo skeptici dat Mitchell sommer vroeg ‘n toets gedop het toe hy bewese jong leiers soos Handré Pollard en Hanru Liebenberg, wat ook bewese puik spelers is, oor die hoof gesien het met die keuse van sy twee kapteins. Daar is min fout te vind met ’n staatmaker soos Burger Odendaal, wat ná Jan Serfontein se vertrek na Frankryk waarskynlik ’n seker keuse op binnesenter vir die Bulls sal wees. Maar Nic de Jager? Dié man is sekerlik ’n goeie leier, maar is hy ’n seker keuse vir die span? Kyk mens objektief na die saak en bestudeer sy statistieke in die 2017 seisoen, dan word dit duidelik dat hy hoogstens ’n gemiddelde Curriebeker speler is.

Die geskiedenis is tog vol voorbeelde oor die skade wat aan die kohesie van ’n span gedoen kan word as ’n speler gekies word net vir sy leierseienskappe, terwyl manne wat ooglopend beter as hy is op die bank moet sit of selfs heeltemal in die koue moet wag vir ’n kans. Mitchell kan gerus gaan lees wat Victor Matfield in sy biografie te sê gehad het oor die laaste twee seisoene van John Smit se Springbok loopbaan, toe elke rugbyliefhebber in Suid-Afrika geweet het dat hy nie meer op meriete bo Bismark du Plessis in die span was nie.

Ironies genoeg was twee van die min uitblinkers in die Bulls se span in Pietersburg die afgelope naweek juis manne soos Marco van Staden en Jano Venter, albei losvoorspelers wat moes terugstaan vir De Jager in die SuperRugby groep. Venter kompeteer direk met De Jager as nommer sewe flank en agtsteman en min rugbykenners sal wil beweer dat De Jager beter as dié klipharde jong losvoorspeler uit Middelburg se wêreld is.

Die ander man wat saam met Venter, Van Staden, Pierre Schoeman en Embrose Papier Saterdag in Pietersburg uitstaande was, is die jong senter, Franco Naudé. Hy is egter ook nie in die amptelike SuperRugby groep nie, hoewel enige rugbykenner wat hom sedert sy junior dae dophou weet dat hy waarskynlik die mees onderskatte senter in Pretoria is.

Hoewel John Mitchell se poging tot dusver dus baie positiewe tekens wys en daar hoop is dat die Bulls ten minste vanjaar in die boonste helfte van die SuperRugby punteleer kan eindig, bly die toekoms van die Blou Bulle in gedrang.

Mitchell is egter nie die enigste persoon wat verantwoordelikheid moet neem om dinge reg te ruk nie. In die raadsale van Loftus sal daar deeglik en oopkop besin moet word oor die situasie. Die ringkoppe sal dwaas wees om te dink dat die oplossing vir die probleme lê by netjiese politieke voetwerk en semantiese kulkunsies. Net ’n wenspan op Loftus sal die eer en toekoms van die Blou Bul kan red. Daarvoor is ’n goed afgerigte, gelukkige wenspan nodig.

Om egter die tradisionele ondersteuner van die span, wat rede het om ongelukkig te wees met die situasie wat tans bestaan, te ignoreer of met woord en daad weg te dryf van Loftus, is dom en selfvernietigend. Kry éérs die tradisionele ondersteuner se vertroue terug en lok hom weer na Loftus Versfeld. Dít moet die belangrikste prioriteit vir 2018 wees.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button