Local sportSport

Blou Bulle se professionele spelers gaan by klubs oefen

Willem Strauss, die Blou Bulle se nuwe president, het Donderdag die implimentering van die eerste van sy beloofde nuwe inisiatiewe aangekondig en dit lyk of hy moeite gaan doen om die rugbypubliek en die professionele spelers nader aan mekaar te bring.

Die Blou Bulle se nuwe president, Willem Strauss, het geen gras onder sy voete laat groei om die eerste van sy beloofde nuwe inisiatiewe te implimenteer nie.

Strauss het tydens die aankondiging van die Bulls se span vir Saterdag se SupeRugby-wedstryd teen die Sharks aangekondig dat sy plan om die Bulls se professionele spelers en die klubrugbygemeenskap van Pretoria nader aan mekaar te bring, reeds vanaf 19 April in praktyk gaan realiseer.

Die Blou Bulle se Curriebeker-span, wat binnekort in aksie sal wees in die SuperSport Rugby Challenge (plaasvervanger van die Vodacombeker-toernooi), sal in April en Mei drie klubs in Pretoria besoek, waartydens hulle ’n amptelike oefensessie op dié klubs se velde sal hê. Die Bulls se hoof-afrigter, John Mitchell, sal hierdie oefensessie lei, terwyl ’n paar hoë profiel spelers uit die SupeRugby-groep ook daaraan sal deelneem.

Met hierdie inisiatief van Strauss sal die klubrugbygemeenskap van Pretoria die kans gegun word om eerstehands te sien hoe die professionele spelers oefen, terwyl daar na afloop van die oefeninge ’n kans sal wees vir die publiek om die spelers te ontmoet, foto’s te neem en handtekeninge te versamel.

Strauss het aan die media gesê dat baie rugbyliefhebbers weens verskeie redes nie altyd die geleentheid het om professionele spelers in lewende lywe te sien nie. Soms is dit slegs ’n geval waar die rugbypubliek eenvoudig nie kan bekostig om ’n wedstryd op Loftus Versfeld by te woon nie. Hierdie inisiatief sal gratis wees en dit sal dus aan almal die kans bied om die professionele spelers te ontmoet en te sien hoe hulle deur Mitchell gebrei word.

Klubspelers en -afrigters sal ook die geleentheid kry om op interaktiewe vlak met Mitchell en sy spelers te verkeer.

John Mitchell het sy tevredenheid met die inisiatief uitgespreek. In teenstelling met tendense en denkrigtings in die professionele opset oor die afgelope twee dekades, het Mitchell sonder skroom sy solidariteit met klubrugby uitgespreek. Hy het openlik gesê dat ’n donker dag vir rugby as spel sal aanbreek as klubrugby verlore gaan.

“Klubrugby bly die ruggraat van die spel en ons het ’n verantwoordelikheid om dit lewend en gesond te hou,” het Mitchell gesê.

Op ’n vraag waarom meer gekontrakteede spelers nie by klubs betrokke raak as hulle nie vir amptelike Bulls-spanne gekies word nie, het Mitchell verduidelik dat daar finansiële implikasies is in terme van die spelers se kontrakte en versekering. Klubs kan nie altyd bekostig om in te staan vir spelers se versekering indien dié spelers beserings sou opdoen terwyl hulle vir klubs speel nie.

Strauss se optrede by die Bulls se weeklikse perskonferensie was as sodanig ook ’n teken van die vars briesie wat op Loftus Versfeld waai. Hy het informeel geklee in ’n Bulls gholfhemp by die perskonferensie opgedaag en na die amptelike verrigtinge op sosiale vlak met joernaliste verkeer.

Die genoemde oefensessies sal plaasvind by Tuine Rugbyklub op 19 April, Noordelikes Rugbyklub (Pretoria-Noord) op 3 Mei en Centurion Rugbyklub op 17 Mei. Al die sessies sal om 16:15 begin en sowat ’n uur lank duur.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button