Quins Bobbies verras Impala in Superliga
Quins-Bobbies is besig om hul stem dik te maak in die Super klubliga en hulle lyk al hoe meer na hafeinstryd kandidate, veral ná hul goeie oorwinning teen Impala.
Die Quins-Bobbies rugbyklub (QBR) se eerstespan het hul posisie op die punteleer van die nuwe Superliga versterk, toe hulle Rustenburg Impala die afgelope naweek met 45-35 geklop het.
Hierdie oorwinning van Gert Mulder en Johan Kluyts se manne op hul tuisveld in Groenkloof was ‘n redelike verrassing, aangesien Impala beskou is as een van die gunstelinge om die toernooi te wen.
Die sewe drieë wat QBR gedruk het, het aan hulle ‘n broodnodige bonuspunt verskaf om hul kanse te versterk vir ‘n plek in die halfeindrondte van die toernooi. Dié vyf ligapunte gee aan hulle ‘n effense voorsprong op Centurion, wat tans in die vyfde plek op die punteleer is.
Tukkies is steeds die voorlooper in die Superliga, met ABE Midas Naka Bulle in die tweede plek, terwyl Impala derde lê. QBR het met hul vertoning egter Impala se kanse bederf om by ABE Midas Naka Bulle verby te skuif.
As die manne van Groenkloof op hierdie vertoning kan voortbou, sal hulle beslis ‘n faktor wees wanneer die uitspeelwedstryde teen Augustusmaand ter sprake kom. Onder Mulder en Kluyts se afrigting speel dié manne al hoe beter en hulle het veral beïndruk met die spanpoging waarmee hulle Impala oorrompel het.
Die tuisspan kon selfs verder gewen het. Ontwrigting in QBR se voorry weens beserings het die manne van Noordwes egter die kans gegee om teen die einde terug te kom en self ‘n bonuspunt te verdien met nog twee drieë.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
