Local sportSport

Nuwe regverdiger Virseker Bekertoernooi skop af

Die gewilde Virseker Beker skolerugbytoernooi sal vanjaar heelwat anders lyk as dit waaraan ondersteuners gewoond was.

Suid-Afrika se oudste skolerugbytoernooi, wat sedert 2017 die Virseker Bekerreeks heet, sal vanaf eerskomende naweek in volle swang wees.

Dié toernooi, wat vir sommige kleiner skole reeds enkele weke gelede afgeskop het, word oor die grense van al vier die noordelike provinsies beslis.

Skole wat tot dusver vanjaar deelgeneem het aan die Tuks-reeks en die verskillende reekse van die NWU-PUKKE, sal eerskomende naweek ook met hul ligaverpligtinge begin, nadat die eindstryd van al die vroeë-seisoentoernooie afgehandel is.

Nadat Virseker verlede jaar die alleenborg van die reeks geword het, is daar reeds belowe dat die struktuur van die kompetisie ondersoek sal word om in die toekoms ‘n meer regverdiger verdeling in die verskillende afdelings te bewerk.

Weens verskeie faktore was daar skole wat in staat was om in baie sterker ligas te kompeteer as dié waarin hulle geplaas was, ten spyte van die feit dat hulle weens getalle nie as Makro- of Grootskole geklassifiseer sou kon word nie. Die teenoorgestelde was ook waar.

Om hierdie rede is besluit om die stuktuur van die toernooi vanjaar te verander. Daar is weggedoen met die stelsel van “Makro-, Groot-, Medium- en Kleinskole” en deelnemende skole is ná intensiewe seleksie ingedeel in die verskillende afdelings waar hulle so naby as moontlik op ‘n krag-teen-krag basis sal kompeteer.

Daar sal dus vanjaar in vier afdelings gekompeteer word. In afdeling een sal daar geen wedstryde op streeksvlak binne die grense van die skole se provinsiale unie gespeel word nie. Die Stadsbeker-liga van die verlede sal dus wegval en skole in dié afdeling sal direk oor provinsiale grense in die Noordvaal streek teen mekaar speel.

Afdeling een is selfs verder verdeel in drie verskillende ligas, naamlik die Beker-, Plaat- en Skild-ligas.

In die top Virseker Beker-liga sal twee plaaslike skole, Garsfontein en Menlopark, meeding teen Monument (Krugersdorp), Dr. EG Jansen (Boksburg), Nelspruit, HTS Middelburg, Helpmekaar (Johannesburg) en Transvalia (Vanderbijlpark).

In die Plaatliga word Pretoria verteenwoordig deur Eldoraigne, Centurion, Montana en Zwartkop. Saam met dié vier speel Noordheuwel (Krugersdorp), Marais Viljoen (Alberton), Kemptonpark en Rustenburg.

Die derde liga in afdeling een die Skild liga, waar Pretoria verteenwoordig sal word deur Oos-Moot. Die Oosies se teenstand in die liga is Pietersburg, Ben Vorster (Tzaneen), Jeugland (Kemptonpark), Florida (Johannesburg), Hugenote (Springs), Lichtenburg en Middelburg Hoërskool.

Afdelings twee, drie en vier bestaan slegs uit een liga met skole uit Pretoria (Blou Bulle), asook provinsiale unies soos die Leeus, Valke, Pumas, Luiperds en Limpopo.

In afdeling twee sal Pretoria-Noord, Midstream College, Die Wilgers, Tuine, Overkruin, HTS John Vorster en Wonderboom in aksie wees.

In afdeling drie word die Blou Bulle verteenwoordig deur Akasia, Curro Hazeldean, Erasmus (Bronkhorstspruit), FH Odendaal, Gerrit Maritz, Hendrik Verwoerd, HTS Tuine, Pretoria THS, Uitsig en Cullinan.

Laastens is daar afdeling vier, wat grotendeels as ‘n ontwikkelingsliga beskou sal word. Hier sal  Maragon, Prestige College, Cornerstone, Woodhill College, Eduplex, Tyger Valley, Lyttelton Manor, Hercules, Silverton, Langenhoven, CR Swart, Willowridge, Voortrekkerhoogte en Curro Roodeplaat die Bloubul-skole wees.

Kyknet sal vanjaar wedstryde in die Virseker Bekertoernooi uitsaai op die TV-kanaal “kykNET en kie”. Dié kanaal sal vanaf 8 Mei elke Dinsdag (onder 15’s) en Donderdag (onder 16’s) van die wedstryde uitsaai. Vanaf 19 Mei sal eerste spanwedstryde elke Saterdag regstreeks op kykNET uitgesaai word. Daar sal ook elke Donderdagmiddag vanaf 10 Mei ’n Virseker Beker-geselsprogram op kykNET en kie te siene wees.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button