Local sportSport

Top drie in Superliga versterk hul posisie

Dit wil voorkom of daar in die volgende weke ‘n titaniese tweestryd gaan heers tussen Centurion en Quins-Bobbies om die vierde klub te word wat vir die nuwe Super Klubliga se halfeindstryd kwalifiseer.

Die drie top klubrugby spanne in die interprovinsiale Superliga het die afgelope naweek aldrie hul posisies op die punteleer versterk met stewige oorwinnings.

Tukkies het op hul tuisveld met Quins-Bobbies (QBR) afgereken. Die eindtelling was 43-23 en Tuks het sewe drieë gedruk teenoor hul teenstanders se vier. Dié bonuspunt wat Gert Muller en Johan Kluyts se manne met hul vier drieë verdien het kan later in die kompetisie goud werd wees.

ABE Midas Naka Bulle het elf drieë ingeryg in hul stewige oorwinning van 69-46 teen Springs. Die manne van die Moot weet duidelik hoe om die doellyn te vind met hul 66 drieë in 9 wedstryde tot dusver, maar Marinus van der Watt en Naas Rossouw sal beslis nie gelukkig wees met die feit dat hulle ook so baie drieë afstaan nie. Springs het Saterdag self ses keer agter die doellyn gaan kuier.

Kefentse Mahlo het met sy twee drieë die top driedrukker in die toernooi tot dusver geword. Hy het nou reeds twaalf keer agter die doellyn gaan kuier.

Die ander top span in die liga, Rustenburg Impala, wat tans tweede op die punteleer is, het groot geskrik in hul wedstryd teen East Rand United (ERU) in Reigerpark, Boksburg. ERU het reeds gewys dat hulle hoogs kompeterend in die liga is wanner hulle op hul tuisveld speel en Impala moes baie hard werk vir hul naelskraapse oorwinning van 33-32.

Met sowat vier rondtes oor voor die aandbreek van die halfeindstryde lyk Tukkies, Rustenburg Impala en ABE Midas Naka Bulle op hierdie stadium na seker kandidate vir dié uitspeelfase. Met Centurion wat teoreties nog ‘n kans het om by die agterdeur in te glip, sal ‘n verwoede stryd waarskynlik in die pylvak van die ligafase heers tussen dié klub en Quins-Bobbies (QBR) om die vierde span te wees wat vir die uitspeelrondte kwalifiseer.

QBR het tans ‘n stewige voorsprong van 15 punte op die punteleer voor Centurion. Die manne van Groenkloof het egter reeds tien ligaverpligtinge afgehandel, terwyl Centurion slegs nege wedstryde gespeel het.

Daarbenewens het QBR drie baie taai bepalings oor om af te handel. Hulle het reeds hul verpligtinge teen die Valke-klubs afgehandel en moet nog teen ABE Midas Naka Bulle, Centurion en Impala uitdraf in hul laaste drie ligawedstryd.

Ná ‘n wisselvallige eerste rondte het QBR dramaties verbeter soos die seisoen gevorder het en tans speel hulle puik rugby. Dis nie onmoontlik dat hulle ABE Midas Naka Bulle en Impala kan verras nie, maar hul wedstryd teen Centurion op 23 Junie sal waarskynlik vir hulle soos ‘n kwarteindstryd wees om vir die halfeindrondte te kwalifiseer.

Centurion, wat nog vier ligabepalings oor het, sal hulself sekerlik ‘n redelike kans gee om hul wedstryde teen Springs (weg) en East Rand United (tuis) te wen. Hulle het oor die afgelope paar seisoene ook ‘n baie goeie vertoningslys opgebou teen Tuks en hoewel dit ‘n reuse opskudding sal wees as Riaan Brand se manne Tuks in hul laaste ligawedstryd op 14 Julie kan klop, kan aanvaar word dat hulle nie vir dié uitdaging terug sal staan nie.

As Centurion dus bonuspunt oorwinnings teen die twee teenstanders uit die Oos-Rand kan behaal en QBR val vas teen ABE Midas Naka Bulle en Impala, wag daar ‘n reuse wedstryd tussen die twee klubs op 23 Junie.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button